Hoof groet sy ‘magic’ skool

Worcester-Noord Primêre Skool is een van etlike skole in die dorp wat vanjaar ’n skoolhoof moet groet.


Worcester-Noord Primêre Skool is een van etlike skole in die dorp wat vanjaar ’n skoolhoof moet groet.

“Dit is ’n magic skool dié,” sê Pieter Borcherds, wat ná 25 jaar by dié skool klaarmaak.

Volgens Borcherds het sy onderwysloopbaan in die Boesmanland begin, waar hy baie vriende en herinneringe gemaak het.

Sy eerste bevorderingspos was in Vredendal waar hy departementshoof was. Daarna het hy by die Laerskool Lochnerhof Strand aangesluit waar hy vir 21 maande adjunkhoof was.

“Ek is toe as 35-jarige as hoof hier by Worcester-Noord aangestel. Dit is ’n wonderlike skool,” sê hy.

Borcherds vertel aan Standard dat hy baie goeie vriende met ouers, personeel asook die leerders by die skool gemaak het.

“Iets wat vir my uitstaan, is die passie, omgee vir mekaar en die ongelooflike waardes wat hier gevestig is.”

“Die Noordjies is soos een groot familie,” voeg Borcherds by.

Ná 25 jaar by die skool, waar hy nie net ander se kinders gekoester het nie, maar ook sy eie, is dit tyd om gaan.

“Ek sê baie dankie vir almal met wie ek paaie gekruis het, dit was ’n groot plesier.”

Om in so ’n posisie te wees, beteken ook dat jy uitgedaag gaan word, maar hy hou vas aan sy waardes dat ’n mens altyd nederig moet wees en daarna moet streef om minstens een mens gelukkig te maak.

“Dit sê ook dat jy innerlik ’n gelukkige mens is.”

Alhoewel daar dinge is wat hy graag sou wou verander, sê Borcherds is hy tevrede met wat hulle as ’n span bereik het.

Hy skryf ook die skool se sukses toe aan die skoolbeheerliggaam en sê hulle was ’n wonderlike ondersteuningstelsel.

“Ook die ouers wat altyd bereid is om hul moue op te rol en te werk. Die skool is ongelooflik goed ingerig en dit is alles te danke aan ouers wat geld ingesamel het.”

Oor sy planne vir die aftrede, sê Borcherds, sien hy daarna uit om sy gunsteling-stokperdjies, waarvan visvang maar een is, te beoefen.

You need to be Logged In to leave a comment.