Van die voorste Hotrod-renjaers van reg oor Suid-Afrika heen neem eerskomende Saterdag aan ’n Hotrod-uitdaagwedren deel by Mega Oval Kleinplasie.
Die dag word moontlik gemaak deur SKP Boukontrakteurs van Stilbaai, Updates and Results on Stockcar Races en Mathysen Racing.
Van die beste Hotrod-jaers het ingeskryf vir die byeenkoms en jaers wat in aksie sal wees sluit onder andere in die nuwe Suid-Afrikaanse kampioen (ZA1) Tyron Els, die ZA3 Pierre Kotze, voormalige kampioene Llewelyn Kotze en Donald Theron (Bloemfontein).
Hansie Moore van Weskus Oval, Hendrik vd Merwe (Newcastle), Fanie Mathysen (Newcastle), Deon Beukman (Randfontein), Quentin Ellard (Port Elizabeth), Hendrickus Botha en Henties de Villiers (Oudtshoorn ) en Barend du Plessis (Bloemfontein) sal ook te siene wees.
Hank Els, Elru Viljoen en Dain Parish – almal van die plaaslike klub – gaan deel wees van die wedren. Robert Hayes van Springbok gaan ook heel moontlik deelneem. Die Hotrod-jaers gaan drie uitdunne en ’n twintigrondtefinaal aandurf.
Al die ander klasse sal soos gewoonlik tydens die klubkampioenskappe ook in aksie wees. Die immergewilde Heavy Metal-klas spog ook met twee SA kampioene wat gaan deelneem. ZA2 Pieter Human (BMW) en ZA3 Francois Smit (BMW) sal beide in aksie wees. Hulle kan egter sterk teenstand verwag van die voormalige SA kampioen Wemer van der Merwe asook Nian du Toit van NDT Racing, Alton Steyn, Hendrik Vos Sr. en Hendrik Vos Jnr., asook Tolla Truskey. Anthony Roemer en Marco Retter van die Cape Helldrivers gaan ook hulle vernuf op die grondbaan kom toets.
In die Midget A-klas sal Schalk Swart sy vorm van vroeër wil herwin om sy voorsprong in die kampioenskap te behou. Hy word egter hard gejaag deur Theo Oberholzer, Anton Lloyd, Stukkie van der Merwe, Hein Kleingeld en Cameron Neethling. Andre Schafer van Weskus Ovaal lewer egter ook altyd puik vertonings hier op Kleinplasie hy en kan nooit uitgesluit word van ’n moontlike oorwinning nie.
Die 4 Silinder Kontak-klas het met aksie belaaide wedrenne in die laaste byeenkoms die skare op hul voete gehad. Dit was veral Rudie Viljoen wat behoorlik vuur gemaak het en omtrent ’n paar manne in die rondte getol het. Francois Burger (Beetle), Jacques Els (Cortina) Francois Blom (Escort), Herman Marx (Escort) en Ruhan Coetzee (Datsun) is saam met Bronley Dick (Toyota) en Pieter Luckas (Mazda) almal in die visier om getol te word.
Toeskouers is meer as welkom om die wedrenne by te woon. Die hekke open Saterdag om 10:00 en wedrenne skop reeds om 15:30 af. Kaartjies is by die hekke te koop teen R100 vir volwassenes en R40 vir kinders tussen 6 en 12. Kinders onder 6 is gratis.