Jare gelede het ‘n jong seun saans voor sy ouerhuis in Worcester gesit en na die vliegtuie gekyk wat oorvlieg. Sy droom was om eendag in een van hulle te kan vlieg.
Meer as ‘n dekade later vlieg daardie einste seun elke twee weke Dubai toe vir sy loopbaan as professionele rugbyspeler in Bahrain.
Hy moes dikwels as die kleinste outjie in die rugby- spanne waarin hy gespeel het, hard werk om daardie droom te bewaarheid.
“Ek wil jongmense aanspoor om aan te hou droom en hard te werk, ongeag van waar af hulle is. Moenie dink jy kan niks bereik omdat jy van ‘n klein plekkie af kom nie,” sê Romeo Eksteen.
As voormalige eerstespankaptein van HTS Drostdy en ‘n oud-Bloubulrugbyspeler het Eksteen homself laat geld.
“Ek is in Worcester gebore en was sewe jaar oud toe my ma aan kanker dood is. My pa het weer getrou en ek het nog ‘n boetie en ‘n sussie bygekry. Ons is ‘n hegte gesin,” het hy vertel.
Die rugbygogga het hom in gr. 7 by die Worcester Primêre Skool gebyt toe hy die eerste keer begin speel het. Hy het in sy gr. 8-jaar by HTS Drostdy vir die o.14B-span gespeel en dit al meer en meer geniet.
“Ek het die o.16- Grant Khomo-span gemis, al het ek baie hard gewerk. Ek het net aan myself gesê my tyd sal kom. Die volgende jaar is ek vir die o.17-Boland-sewesspan gekies en vir HTS Drostdy se eerste span gespeel.”
Die bal was aan die hop en die volgende jaar was hy kaptein van die Boland- o.18-Cravenweekspan asook kaptein van Drostdy se eerste span.
“Baie mense het gesê ek sal dit nooit maak nie, want ek is te klein. Ek is in amper elke span wat ek speel, die kleinste,” vertel Eksteen. Dit het hom egter nie teruggehou nie. Ná skool het hy twee jaar vir die Blou Bulle gespeel totdat hy ‘n besering opgedoen het. Daarna het hy vir die Ferrol-rugbyklub in Spanje gespeel.
Terug in Suid-Afrika het hy ‘n ruk lank vir die Worcester Villagers opgedraf en Super A-liga vir die Hamiltons in die Kaap gespeel. Hy het daarna die geleentheid gekry om in Bahrein te gaan speel en as rehabilitasie-spesialis te werk, waar hy sportlui deur oefening help om van hul beserings te herstel. “Baie mense het vir my gesê omdat ek van Worcester af kom, ek nie geleenthede sal hê nie. Dit gee ons net rede om harder te werk en mense verkeerd te bewys. Jou sukses gaan nie oor waar jy vandaan kom nie,” het Eksteen gesê. Dis vir hom belangrik om ‘n goeie mens op én weg van die veld af te wees. Die ondersteuning wat hy veral van sy ouers, Roderick en Franciska, gekry het, lê hom na aan die hart.

