Hul wiele gaan in België sing

Drie fietsryers van Hoërskool Breërivier (HB) pak eersdaags hul reistasse om aan bekende fietswedrenne in België deel te neem.


Drie fietsryers van Hoërskool Breërivier (HB) pak eersdaags hul reistasse om aan bekende fietswedrenne in België deel te neem.

Deubarn van West (17), Miché Dipper (16) en Tyrese Swartz (16) sê hulle is opgewonde om oorsee deel te neem. Al drie leerders is deel van die Wes-Kaapse fietsryspan, HB en York Cycling Academy, in Paarl.

Hul afrigter, Owen Anthony, is trots op die drie leerders. “Hulle is gekies om aan die fietswedren deel te neem as gevolg van die goeie prestasies wat hulle tot dusver in dié sport bereik het.”

Anthony sê die geleentheid sal die leerders goeie blootstelling gee. “Die fietswedrenne in Europa is op ’n ander vlak. Dit sal goed vir hulle wees om teen fietsers van ander lande mee te ding. Dit kan hul ontwikkeling baie help,” sê Anthony.

Anthony sê die sport kos baie geduld en uithouvermoë. “ ’n Fietsryer moet gedissiplineerd wees. Jy bring lang tye op die pad deur, dis warm in die somer en koud in die winter.” Hy sê die drie leerders het baie ontwikkel. “Die groep oefen vyf dae ’n week en naweke neem hulle aan wedrenne in en om Worcester deel. Hulle het lewensvaardighede geleer en die belangrikheid om doelwitte vir hulself te skep.”

Van West en Swartz sê hulle wil graag eendag professionele fietsryers word. Hulle het ook in gr. 8 by die skool se fietsryspan aangesluit.

Dipper sê sy wou nog altyd van jongs af fietsry. “Van kleins af het ek altyd met fietse gespeel. Toe ek hoërskool toe kom, moes ek net eenvoudig by die fietsryspan aansluit.” Sy sê die pad raak soms moeilik. “Wanneer my bene lam raak dan sê ek vir myself die einde is naby dan kry ek nuwe krag om die wedren te voltooi.”

Anthony sê selfs omstandighede het nooit die leerders se passie vir fietsry beëindig nie. “Omstandighede in Avianpark kan soms ’n probleem raak, dan laat weet die leerders hulle kan nie oefen nie.”

Op 1 en 2 Julie sal die leerders aan kermesse-wedrenne (’n soort wedren eie aan Wes-Europa) in Brussels deelneem. Van 5 tot 7 Julie durf die leerders die internasionale jeugtoer in België aan.

Weens finansiële tekortkominge mag die reis dalk egter vir die leerders net ’n droom bly en verbeur hulle dalk dié een-keer-in-’n-leeftyd-geleentheid.

Elkeen moet bykans R25 000 insamel om hul vliegtuigkaartjies, verblyf en etes te dek. Die leerders het ook nie hul eie fietse nie.

Persone wat graag die leerders finansieel of met benodigdhede wil ondersteun, is welkom om die skool by 023 347 1180 te skakel of Anthony by 076 815 7365.

You need to be Logged In to leave a comment.