Matrikulante uit die Kaapse Wynland-onderwysdistrik maak deel uit van die meer as 6 700 kandidate wat geregistreer is om die aanvullende eksamen vir die nasionale senior sertifikaat van 19 Februarie tot 3 Maart af te lê.
Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het ’n spesiale webwerf beskikbaar gestel om kandidate te help om hulle vir die eksamens voor te berei. Hulle kan die WKOD se webtuiste besoek en meer inligting onder die hofie “Supplementary Examinations” kry.
Die departement bied ook lesse deur satelliet vir spesifieke vakke aan, asook onderwerpe aan 132 skole oor die provinsie heen.
Die uitsendings is deel van die Telematika-program wat in samewerking met die Universiteit Stellenbosch aangebied word.
Die webblad bevat die rooster vir die hereksamen, bykomende vraestelle en antwoordstelle, studiegidse, bestelvorms vir opnames van telematiese lesse, asook skakels na aanlynvideo’s oor geselekteerde vakke.
Die webwerf bevat ook ’n skedule vir die telematiese uitsendings en ’n lys van die betrokke skole, asook kontakbesonderhede.
Kandidate kan ook na hulpbronne soek op die WKOD se e-portaal, wat skakels na digitale bronne vir alle grade insluit.
Die WKOD se telematiese sentrums sal in Februarie en Maart lesse vir aanvullende kandidate aanbied.
Die lesse dek spesifieke onderwerpe in sewe vakke, en wissel tussen Afrikaans en Engels. Die vakke is besigheidstudie, geografie, geskiedenis, wiskunde, rekeningkunde, lewenswetenskap en fisiese wetenskap.
Besoek die WKOD se webwerf vir nog inligting of skakel 021 467 2732.
– Carryn-Ann Nel/Netwerk24