Hexvallei Sekondêre Skool het Saterdag 18 Augustus die jaarlikse FNB Classic Clashes tussen hom en De Kruine Sekondêr op sy skoolterrein aangebied.

Die wedstryde is voor meer as 3 000 mense gespeel. Voor die hoofwedstryd het Hexvallei SS se pompom-meisies die toeskouers met hul uitsonderlike danspassies in vervoering gehad.

Die o.19A-rugbywedstryd het teen ’n geweldige pas begin met Hexvallei SS wat die meeste aanvalswerk gedoen het.

De Kruine SS se spelskepper, Benji Zimri, is in die 10de minuut met ’n rooikaart deur die skeidsregter, Piet Swarts, van die veld gestuur ná ’n gevaarlik laat hoogvat op Teswin Jacobs.

Hexvallei SS het in die 15de minuut eerste bloed geruik nadat Calvin Stevens ’n skop deur die pale gesit het en Delano Page later die bal mooi beheer en onder die pale gaan druk het.

Kurt het die drie verdoel.

In die 30ste minuut was dit weer die beurt van die kaptein en speler van die wedstryd, Teswin Jacobs, om agter die doellyn te kuier. Die doelskop was mis en 12-0 het ook die rustydtelling geword.

In die tweede helfte het dit gelyk asof net een span opgedaag het om verder te speel. Eers was dit die beurt van Hexvallei se agsteman, Corné Klein, om onder die pale te gaan kuier. Die doelskop was oor en die telling het tot 19-0 gestyg. Hexvallei, wat deur ’n passievolle tuisskare aangespoor is, het in die kwartgebied van De Kruine SS geboer. Elvino Hendricks het met brute krag oor die doellyn gebars en die telling tot 26-0 verhoog. Daarna was dit die beurt van die slot Ishline Bothman, wat soos ’n wafferse vleuel van De Kruine SS se 10 m-lyn deurgenael en in die hoek gedruk het (doelskop links verby; telling 31-0). Gregory Olivier is net voor die eindfluitjie oor om Hexvallei SS se sesde drie te druk (doelskop oor; eindtelling 38-0).

De Kruine SS het al die netbalwedstryde gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.