In jou huis, maar jy koes vir koeëls

’n Inwoner van Riverview-woonstelle het Sondag 1 Mei met die geluid van skote wakker geword. Oomblikke daarna het sy gehoor hoe ’n koeël haar venster en kas tref.

Dit is waar die koeël Sondagoggend 1 Mei deur die venster van ’n woonstel in die C-blok in Riverview geskiet is. Louisa van der Merwe is steeds geskok oor die voorval.Foto: Dominique Jeftha

Credit: SYSTEM

’n Inwoner van Riverview-woonstelle het Sondag 1 Mei met die geluid van skote wakker geword. Oomblikke daarna het sy gehoor hoe ’n koeël haar venster en kas tref.

Louisa van der Merwe sê wanneer sy aan die voorval dink, loop die trane.

“Ek het Sondag in die vroeë oggendure gelê met my sewejarige kleinkind langs my en slaap toe ek die skote hoor,” verduidelik sy.

John van der Merwe, haar seun, sê die polisie het eers ure daarna – Sondagaand – die eerste keer opgedaag ná vele oproepe van hom en sy ma.

“Dit behoort mos nie normaal te wees nie,” sê John.

Terwyl John vir Standard die koeëlgate in die muur wys, wys hy ook hoe ’n groep jonger kinders – nie ouer as vyf jaar nie – mekaar buite met klippe gooi.

“Dit is waarvan ek praat. Dit begin so normaal raak dat die kinders dit van kleins af begin doen,” sê hy.

Volgens hom gebeur dit gereeld. “Baie mense kla oor dieselfde ding, maar is nie bereid om saam te staan nie.”

Die buurvrou van Louisa van der Merwe se muur waar die koeël net bokant haar dogter en kleinseun se kop getref het toe hy kleiner was.Foto: Dominique Jeftha
’n Koeëlgat buite Louisa van der Merwe se woonstel waar die bendes gereeld op mekaar skiet.Foto:

John wys na ’n koeëlgat wat in ’n vorige skietvoorval by die buurvrou se woonstel veroorsaak is. Die buurvrou wys ’n koeëlgat in haar sitkamermuur en vertel haar kleinkind was maar ’n paar dae oud toe sy ma op die bank met hom in die sitkamer gesit en ’n koeël deur die venster gekom het.

“Die sement van die baksteen wat die koeël getref het, het op sy gesig geval,” onthou sy.

“Die bendes skiet van die ander kant af en gee nie om wie of wat hulle skiet nie,” sê hulle.

Louisa sê twee koeëls het reeds deur haar sitkamervenster gekom, en een deur die slaapkamervenster.

“Met die koeël wat deur die sitkamervenster geskiet is, het ek op die bank gesit en ek was besig om my broek aan te trek. As ek sou opgestaan het, sou ek raakgeskiet gewees het,” sê sy.

Louisa wys die venster, gordyn en kas waar die skoot Sondagoggend deur is. Sy beskryf die geluid van die koeël deur die venster soos iemand wat sand deur die venster gooi.

“Ek het net bly lê, want ek het net my kleinkind kalmeer. As ek daaraan dink, voel ek ek kan iets oorkom. Ek raak sommer aan die huil. Dis die vrees vir wat kon gebeur het,” sê sy.

John sê onskuldige mense sit vol vrees in hul huise as die skote klap.

“Dis mos nie reg dat mense in hul huise moet platlê nie. Selfs die kinders moet geleer word – wanneer buite geskiet word, moet hulle plat op die grond lê,” sê hy.

Hy sê die polisie sal moet ingryp, want dit raak nou te veel. Hy voer aan die polisie sal meer moet patrolleer om die probleem hok te slaan.

“Hoeveel keer is onskuldige mense al in die woonstelle vermoor of doodgeskiet; dit is mos nie reg nie? Dis hartseer om te sien waardeur mense hier gaan,” sê John.

You need to be Logged In to leave a comment.