Die Hoërskool Charlie Hofmeyr se top-matriekleerder het vir elk van haar agt vakke ’n A losgeslaan, met ’n gemiddelde punt van 94,2%.
Ronelle Roux bieg dat sy wel ’n bietjie senuagtig was voordat sy haar uitslae gekry het.
“Maar ek is heel gelukkig met my punte. Dit is in die omgewing van waarvoor ek gemik het.”
Sy meen haar sukses kan toegeskryf word aan “baie, baie ure” se leer – veral omdat daar nie verlede jaar regtig buitemuurse aktiwiteite was nie.
“Ek weet nie hoe ek dit vorige jare reggekry het om sport te doen en nog te studeer ook nie,” verduidelik sy.
Wat haar geïnspireer het, was die vorige jaar se matriekleerders se uitslae.
“Ek het dit altyd dopgehou en gehoop om so goed soos hulle te vaar, of selfs beter. My ouers was ook ’n groot bron van motivering gedurende die eksamen. Hulle het my elke dag gemotiveer en moed ingepraat.”
Roux sê die inperking het op ’n manier ’n positiewe uitwerking op haar lewe gehad.
“Dit het my gehelp leer om op myself staat te maak en nie altyd na die mense om my te kyk vir hulp nie. Dit het my ook baie meer dissipline in terme van my studies geleer.”
Hierdie topmatrikulant verhuis eersdaags na Bloemfontein om daar medies te gaan studeer.
“Ek is wel ’n bietjie senuagtig om weg van die huis af te trek, maar ek sien ook baie uit daarna.”