Tussen groot bome in Worcester staan statige witgeverfde huise wat uit toentertyd dateer.
Dié strate met hul ouwêreldse sjarme is een van Worcester se kenmerke. ‘n Groep inwoners is egter bekommerd oor die verval en verwaarlosing van sekere huise asook plakkers wat hulself plek-plek tuismaak.
In ‘n brief aan Standard Breederivier Gazette skryf hulle: “Op die hoek van Kerk- en Napierstraat is ‘n gebou wat – om die minste te sê – gesloop moet word.” In teenstelling met sy bure sien hierdie geskiedkundige huis vervalle daar uit met gebreekte vensters en ‘n balkon wat nie juis stewig lyk nie.
Dwelmverslaafdes en prostitute het hulself daar tuisgemaak, beweer van die inwoners. Die groep is ook bekommerd oor plakkers wat by die motorhuise by die treinstasie daar naby ingetrek het en rommel wat rondlê nadat dromkrappers vullissakke oopgeskeur het. “Weet die res van die twee wyke hoe hul eiendomswaardes by die dag verswak en die negatiewe maatskaplik-ekonomiese invloed wat dit op die kopers en verkopers het?”
Dr. Julian Kritzinger, die burgemeesterskomiteelid vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling van die Breedevallei-munisipaliteit, sê hy en die wykraadslid vir wyk 12, Vernon Bedworth, meld gereeld inwoners se klagtes by die munisipale boubeheerafdeling aan. “Die eienaar moet voor ‘n ultimatum gestel word om sy geboue te beveilig en die stoornis te staak.” Die huidige eienaar is glo bejaard en het die eiendom in 1974 gekoop.
Volgens navorsing wat Kritzinger gedoen het, het Wouter de Wet van Brandvlei die hele straatblok tussen Kerk-, Trappes-, Hoog- en Napierstraat in 1820 gekoop en die De Wet-familie se tuishuis was op die hoek van Hoog- en Trappesstraat. Ná sy dood is die blok opgedeel, en teen 1909 het Willem du Toit by Napierstraat 22 gewoon, terwyl ene E. Munro by Napierstraat 24 gewoon het. “‘n Bekommernis wat almal in die dorp deel, is die agteruitgang van die historiese geboue. Die geleidelike agteruitgang van hierdie twee private geboue bied vele uitdagings aan inwoners en is ‘n bron van kommer vir bewaringsbewustes,” het hy gesê.
“Al die klagtes wat van inwoners ontvang is, is deur die munisipale boubeheerafdeling ondersoek en die leêr is uiteindelik na die munisipale hof verwys.
‘n Lang oponthoud is egter weens ‘n soektog na die eienaar veroorsaak, maar hy is opgespoor. Die munisipale hof is tans besig om die saak te hanteer,” het hy gesê. “Die hoofdoel van die munisipale hof in hierdie stadium is om toe te sien dat die eienaar aan die versoek van die boubeheerafdeling voldoen – dat deure en vensters beveilig en toegemaak moet word sowel as om enige verdere stoornis te verhoed.” Die eienaar se hofdatum is 10 Julie.
“Die hof wil voortgesette aanspreeklikheid verseker en toesien dat die eienaar by die spertye hou en opdragte van die hof volg – soos die toemaak van deure, vensters en ander noodsaaklike verande-
rings aan te bring – totdat ten volle aan alle voorskrifte van die hof voldoen is en die stoornis sodoende beëindig word.”
Indien aan al die voorskrifte voldoen word, sal die saak van die rol geskrap word. Volgens Kritzinger het die eienaar kontrakteurs genader om die eiendom te help beveilig.
Een van die oponthoude is dat die eiendom ‘n historiese eiendom is en alle aansoeke om aan die eiendom te verander, moet na Erfenis Wes-Kaap vir sy goedkeuring verwys word. Dit bemoeilik die proses omdat hulle hul eie bewaringsvereistes stel en die proses tyd neem. Die polisie patrolleer die gebied om die geboue gereeld en tree op indien probleme ontstaan, het Kritzinger gesê. Tydens Standard & Gazette se besoek Maandag 30 Junie was die kontrakteur reeds besig om die gebou se vensters toe te maak. Binne het ‘n aantal haweloses geslaap. Volgens ‘n plaaslike bouer kan dit tussen R1 miljoen en R2 miljoen kos om so ‘n vervalle huis weer tot sy volle glorie te herstel.

