Inwoners staan bont om besittings, wonings te red

Inwoners van Worcester moes Woensdagaand bontstaan om te keer dat hul huise en besittings wegspoel ná ‘n wolkbreuk.


vloede
Wilfred Arries van Roodewal woonstelle staan enkeldiep in die water voor sy huis. FOTO’S: Dominique Jeftha en Phiwokuhle Mothemela

Inwoners van Worcester moes Woensdagaand bontstaan om te sorg dat hul huise en besittings nie wegspoel ná ‘n wolkbreuk nie. 

Inwoners van Roodewal was die ergste geraak. Hulle het van Woensdagaand 23:00 tot die vroeë oggendure Donderdag gespook om hul huise en besittings te probeer red. Talle van die inwoners sê die munisipaliteit het nie kom kyk of hulp aangebied nie.

Standard het Donderdagoggend vroeg besoek afgelê by van die inwoners wat deur die vloedwater geraak is. Lillian Matthyse en haar bure van L-woonstelle in Roodewal gebruik klippe en ou palette om uit hul wonings te kom.

Matthyse sê sy werk al heelnag om die water uit haar huis te kry.

“My hele huis was vol water, my yskas en vrieskas het ingegee as gevolg van die klomp water. Ek het asma en ’n longprobleem maar ek moes maar die water probeer uitvee,” sê sy.

Sy moes van die klere en beddegoed weggooi, want dit was onbruikbaar. Sy verduidelik die water het vanaf die voordeur tot by die agterdeur geloop.

“Die jongmanne moes later sandwalle gooi sodat die water nie te veel instroom nie.”

Nog ’n inwoner van die L-blok, die 74-jarige William Louw, sê hy moes sy vrou van die bed af tel en by die bure gaan sit want die water het sy hele huis oorspoel.

vloede
Mary Geduld en haar kleinkind voor haar huis in Paulstraat waar die water Woensdagaand soos ’n rivier deur haar voorkamer geloop het.

“Ek bly 34 jaar hier en dit gebeur elke jaar. My siek vrou moes by die bure gaan slaap. Die munisipaliteit moet verantwoordelikheid vat, nie een van hulle was hier om te help nie. Hulle vertel elke keer daar is niks wat hulle kan doen,” sê Louw.

Hy sê die rede vir die vloedwater is omdat die BVM nie na die dreine kyk nie.

Wilfred Arries het aan Standard gesê hy het gevrees vir die kragdrade wat laag hang by sy agterdeur. “Wat as die drade geval het, ons almal sou doodgeskok het. Die munisipaliteit gee net nie om nie. Ons almal was kniediep in die water die hele nag.”

Hy het ook die krake in die woonstelblok wat veroorsaak dat die water van bo af inlek, aan Standard gewys.

Mary Geduld van Paulstraat in Roodewal het met trane in haar oë gestaan toe ons haar besoek. Die 74-jarige Geduld sê sy sukkel reeds 55 jaar lank al met die probleem.

vloede
Granville Timm (adjunkhoof) van Roodewal Primêre Skool in sy klas waar die water ’n dam gemaak het.Foto’s: Phiwokuhle Mothemela en Dominique Jeftha

“Ek kan regtig nie meer nie, elke keer as dit reën gebeur dit. Die water het vannag soos ’n rivier in ons huis geloop. Dit gebeur vanaf 1967.”

Sy sê sy het selfs die brandweer gebel, maar hulle kon haar nie help nie. Geduld sê die water was veel erger as vorige jare.

Sy het ’n beroep op die munisipaliteit gedoen om die modder voor haar huis te verwyder of klippe te gooi sodat sy by haar huis kan in en uitgaan.

Julia Meyer van Rhodestraat 51 het aan Standard gesê sy het nog nie ’n oog toegemaak vanaf Woensdagaand af nie.

“As dit nie vir my dogter was wat my kom help het nie, sou ek steeds water uit my huis gevee het.”

Sy sê sy het al haar beddegoed gebruik om die water te probeer keer, maar dit het nie gehelp nie. Meyer wil nou weet wie se verantwoordelikheid dit is, want sy moet self vir die skade betaal.

“’n Bank-assessor het verlede jaar vir my gesê dat ek self moet betaal om my vloere en fondament te lig. Die munisipaliteit moet verantwoordelikheid vat, want hulle het veroorsaak dat die pad hoër as die erwe is, nou loop die water by ons in,” sê sy.

Riverview Primêre Skool is ook deur die swaar reën geraak.

vloede
Leandrie Fransman en haar niggie Mariska Wehr probeer die water uit hul huis skep.

Volgens die skoolhoof, Denovan Willemse, oorstroom die skool altyd as dit reën. “Ons moes rapportkaarte aan die kinders uitdeel, maar kon nie omdat ons elektriese toestelle beskadig is deur die storm. Ons sal more die rapporte aan die kinders oorhandig.”

Elke jaar wanneer die dorp uitermatige reënval ervaar, dan ly die skool daaronder.

Toe Standard Donderdagoggend by die skool aankom, het die personeel nog vir die amptenare van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) gewag.

“As gevolg van die feit dat die leerders se huise ook oorstroom is, het die kringbestuurder voorgestel dat ons die kinders akkommodeer totdat klasse skoongemaak is.”

Williams het vroeër ’n nuwe gebou vir die skool aangevra. Hy stel die skool-speelterrein voor, omdat die grond daar hoër is en nie oorstroom as dit reën nie. Die WKOD het in ‘n brief wat op 18 Maart aan hom gerig is, gereageer dat die bouproses volgende jaar sal begin.

“Ná gisteraand se voorval wil ek net hê die WKOD moet die proses bespoedig.”

vloede
Quenet’s Apteek het ook oorstroom en personeel het tot laat geswoeg om skoon te maak. Foto: Fabio Julies/Facebook

Selfs Q Square en Quénets-apteek in Hoogstraat het Woensdagaand deurgeloop. Volgens George van der Vyver van Quénet’s Apteek was hulle nie gevrywaar nie en is dit ook nie die eerste keer vanjaar nie.

Hy sê dit is die vierde keer die jaar dat die apteek oorstroom. Van der Vyver sê die water het skade aan die ligte, transformators en kaste veroorsaak. Hy sê hulle het 08:00 oopgemaak soos gewoonlik omdat hulle die vorige aand skoongemaak het.

Die Breedevallei-munisipaliteit het in ’n persverklaring op hul Facebook-blad gesê hul personeellede is hard aan die werk om bedrywighede te herstel en almal waar moontlik by te staan.

Daar word beraam dat meer as 100 mm reën in hierdie kort tydperk op sommige plekke geval het, met inwoners wat plek-plek 60 mm gemeet het.

Indien iemand nog hulp nodig het of enige navrae het, kontak die BVM by 0860 12 12 12 of stuur ’n e-pos na ssc@bvm.gov.za

You need to be Logged In to leave a comment.