Jeug wil Worcester ’n beter plek maak

’n Jeugleierskapontwikkelingsprogram wat in Januarie op die been gebring is, is reeds besig om vrugte af te werp.


’n Jeugleierskapontwikkelingsprogram wat in Januarie op die been gebring is, is reeds besig om vrugte af te werp.

Die sowat 30 leerders wat as deel van die program hul eie projek van stapel moes stuur, reël tans ’n optog en sportdag vir 27 April.

Die program is die inisiatief van die subsektor 3-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF).

Volgens Edna Rossouw (15), ’n gr. 10-leerder van Worcester Gimnasium, gaan die Neo Lea-groep, soos hulle hulself gedoop het, se optog deel wees van ’n pretdag wat by die Bolandpark-stadion gehou gaan word.

“Die optog, waartydens ons met bewusmakingsplakkate gaan loop, gaan van die Robertsonpad (R60) af gehou word deur die dorp tot by Bolandpark,” voeg Rossouw by.

Volgens haar is die doel van die optog om tieners bewus te maak van misdaad, rassisme en geweld. “Ons wil Worcester ’n beter plek maak vir die toekoms.”

Die optog is ook daarop gemik om laerskole te betrek en jong leiers aan te moedig om saam te staan teen misdaad. Die oogmerk is om 10 leerders elk van verskeie plaaslike laerskole te betrek, wat sal neerkom op sowat 200 laerskoolleerders.

Alle reëlings oor die optog en die res van die dag se gebeure is, met die leiding van ao. Stephan Stander, deur die jong leiers self gedoen – van die aansoeke vir die optog tot die aansoeke vir borgskappe.

Nog ’n leerder, die gr. 11-leerder Emma Bosman (16) van Hoërskool Montana, meen die tekort aan jong leiers is wat haar aangespoor het om deel te wees van hierdie projek. “Ons wil vir mense wys dat daar nie plek is vir misdaad in Worcester nie. Daarom wil ons almal bymekaarbring. Dit is maar net my manier om ’n verskil te maak in my dorp,” het sy bygevoeg.

Volgens Colin Koenze (15), ’n gr. 9-leerder by Hoërskool Breërivier, beoog hulle om die dag so spesiaal moontlik te maak. “Ons beoog om selfs lugfoto’s te neem van die dag se gebeure en dit op Youtube te plaas,” sê hy.

“Ons hoofdoel is om in ons verskeie gemeenskappe en skole ’n verskil te maak. En daarom sien ek uit na die dag omdat ons alle dinge wat ons basiese menseregte skend gaan aanspreek. Ek glo ons sal ten minste een persoon beïnvloed.”

You need to be Logged In to leave a comment.