’n Egpaar van Worcester is daaraan toegewy om jeugdiges te help om hul naskoolse drome te verwesenlik.
Ronel en Gerald Pullin het die Lwazi Enrichment Programme (LEP), ’n organisasie sonder winsbejag, gestig.
LEP het Saterdag 20 Julie ’n suksesvolle loopbaanuitstallingsdag by Somerset Skool aangebied.
Die tema van die dag was “Daar kan iets goeds uit Worcester kom”.
Ronel sê bykans 240 jeugdiges het die geleentheid bygewoon.
Hazel Apollis, Paulette Apollis, Ellenice Standaar, Nuraan Adams, dr. Demore Pretorius en Hanlie Davies het motiveringspraatjies gelewer.
Organisasies en instansies wat by die loopbaandag uitgestal het, sluit in die departemente van korrektiewe dienste en maatskaplike ontwikkeling, die Breedevallei-munisipaliteit, College of Cape Town, Universiteit van Wes-Kaapland, Universiteit van Stellenbosch, Boland College en Falsebay College.
Ronel sê die hoogtepunt om loopbaanuitstallings aan te bied, is die dankbaarheid wat die leerders daarvoor toon.
LEP sal ook ’n loopbaanuitstalling in Augustus in De Wet, De Doorns en Touwsrivier aanbied.
Die hulp wat LEP bied is gratis.
Ronel moedig instansies of organisasies aan wat graag deel van die program wil word om jeugdiges te help, om haar by 081 233 0198 te bel.