Jeugoptog, sportdag ’n sukses

Die Neo Lea-jeugleierskapontwikkelingsprogram se optog teen misdaad en boeresportdag word beskou as ’n dawerende sukses.


Die Neo Lea-jeugleierskapontwikkelingsprogram se optog teen misdaad en boeresportdag word beskou as ’n dawerende sukses.

Die hele program van Woensdag 27 April het vlot verloop, sê die hooforganiseerder, ao. Stephan Stander.

Die jong mense se optog het begin by die Paglande-parkie langs die Robertsonpad en geëindig by Bolandpark. Motoriste wat verby gery het, het terstond hul steun getoon deur hul toeters te druk.

Die Worcester Gemeenskap Marching Band het die voortou geneem en musiek gemaak terwyl Neo Lea en hul gevolg agterna gekom het met plakkate teen gesinsgeweld, dwelmmisbruik, verkragting en bendebedrywighede.

“Die jongelinge het die leisels geneem en self die reëlings voor die tyd getref,” sê Stander.

“Hulle het al die besighede self gaan sien vir borgskappe. Al was ek daar om ’n helpende hand te verleen, het ek die besigheidseienaars aangemoedig om ‘moeilik’ te wees. Dit leer die jongmense hoe om vir hulself te dink en om op hul eie voete te kan staan,” voeg hy by.

Volgens Raool Antonie van die Worcester Gemeenskap Marching Band het al die lede van die groep dit vreeslik geniet om deel te kon wees van die optog. “Dit was ’n fantastiese oggend en ons almal het dit baie geniet om die jeugontwikkelingsgroep te kon lei in hul optog. Dis altyd lekker om deel te kan wees van ons gemeenskap.”

Die sportdag, wat omstreeks 09:30 begin het, het gekonsentreer op boeresport-items waaraan verskeie laerskole deelgeneem het. “Ons het elke skool gevra om hul 10 leiers in graad 7 te stuur omdat daardie leiers oor ’n paar jaar, as hulle in die hoërskool is, kan deel raak van die jeugontwikkelingsprogram,” sê Stander.

Leerders van Worcester-Noord, Roodewal, Alfred Stamper, PJB Cona, De Tuinen, Victoriapark en Avian­park asook 50 kinders van omliggende plaasskole het die verrigtinge bygewoon. Emma Bosman van Hoërskool­ Montana, ook lid van die ontwikkelingsprogram, beaam dat die optog en sportdag ’n groot sukses was. “Ons het net positiewe kommentaar ontvang oor die dag. Ek het oorspronklik 200 kinders verwag, maar daar het heelwat meer opgedaag. Dít is nog net die begin en ons beplan groot dinge vorentoe.”

Volgens Stander beoog die polisie om die Neo Lea-jeugleierskapontwikkelingsprogram uit te brei na ander polisiestreke in die provinsie. “Die grootste droom is dat die program landwyd sal versprei sodat al ons jeug betrokke kan raak.”

You need to be Logged In to leave a comment.