’n Baie belowende duiweboer het vanjaar geskiedenis gemaak deur nie net geharde en gerekende duiweboere in sy klub harde bene te laat kou nie, maar ook met die klub se louere as algehele kampioen vir 2023 weg te stap nadat nog ’n bekende in duiwekringe, Wesley Soldaat, van 2016 tot 2022 sy klub se kampioen was.
Anver Sedan, kleinseun van een van Worcester se bekendste duiweboere van weleer, wyle Danny le Grange, was reeds van kleintyd af ten nouste betrokke by sy oupa en later ook sy oom Hyron (intussen ook oorlede) se duiweboerdery-bedrywighede.
Hy is egter sedert 2015 self heeltyds betrokke by die sport en het sommer van meet af aan sy stempel tussen die hardebaarde afgedruk.
Hy moes egter vanweë werksverpligtinge en gemeenskapsaktiwiteite altyd hier in die helfte van elke seisoen halt roep.
Vanjaar het hy egter besluit om voluit te gaan en sommer met sy eerste volledige seisoen die vrugte gepluk.
Nie net het hy sy klub, die Worcester Racing Pigeon Club (WRPC), se rekordboeke herskryf deur 18 keer wedvlugte te wen nie, maar het dit ook in nege agtereen-volgende wedvlugte reggekry.
Daarmee saam het hy ook die Danny le Grange Memorial-wedvlug van Bloemhof af vir die afgelope twee jaar agtermekaar gewen.
Hierdie wedvlug is drie jaar gelede met ’n pragtige trofee deur Le Grange se dogters, Yumna en Lynn, ingestel en word net tussen hul oorlede pa se klub WHRS (Worcester Homing Racing Society) en WRPC (twee van die oudste klubs in die dorp) beslis.
Dit is in 2021 deur Jeftha Loff gewen.
Sedan het egter die afgelope twee jaar koning gekraai.
Le Grange, ’n welbekende sakeman van die dorp, is in November 2016 oorlede. Hy was veral onder duiweboere bekend vir langafstandvlugte en het onder meer die wedvlug van Johannesburg af vyf jaar agtereenvolgens in sy klub gewen – en dit met ’n duif wat hy destyds geteel het en wie se nasate nou ook groot roem vir sy kleinseun inbring.
Met dié prestasie het Sedan, wat die klub se kortpad-, middelpad- asook algehele kampioen vir 2023 is, beslis ’n duidelike boodskap aan ander wedvlug-deelnemers gerig om in die toekoms met hierdie duiweboer rekening te hou.


