Jong gholfspeler wil verder sy merk maak

Aidon Willemse (19), ’n kranige gholfspeler van Worcester, wil nog groot sukses op die gholfbaan bereik maar het al reeds sy merk in hierdie sport begin maak.


Aidon Willemse (19), ’n kranige gholfspeler van Worcester, wil nog groot sukses op die gholfbaan bereik maar het al reeds sy merk in hierdie sport begin maak.

Standard het by die jong man gaan inloer om te hoor wat sy passie aanvuur.

“Ek het een middag na skool in 2010 saam met my vriende na die gholfbaan gegaan en daar was ’n oom wat vir ons net die basiese vaardighede geleer het. Die gogga het my onmiddellik gebyt en ek het verlief geraak op die sport,” sê die jong gholfspeler.

Willemse het vir die eerste keer in 2012 waarlik sukses in die sport behaal toe hy opgeneem is in die o.13 Boland-gholfspan. Hy het sy laerskool onderrig by Hexpark Primêr ontvang en noem dat hierdie skool die deure vir hom oopgemaak het om ’n beurs te kry by Hoërskool De Villiers Graaff in Villiersdorp.

“Ek het in 2014 ’n beurs by my hoërskool ontvang en het die geleentheid met albei hande aangegryp. Die skool het ’n gholf akademie en dit het my baie gehelp om my talent te ontwikkel. Hier het ek die geleentheid gekry om teen van die bestes in my ouderdomsgroep myself te meet,” sê hy.

Willemse was gekies vir die Boland-premier se internasionale provinsiale toernooi (IPT) in 2019 en speel al reeds van o.13 af by hierdie spog toernooi. Van sy ander prestasies sluit in:

  •  Wjinlander junior kampioen in 2012
  •  Wellington junior meester toernooi wenner in 2014
  •  o.19 Bolandspan IPT wenners in 2016 en 2018
  •  Theewaterskloof gholfklub kampioen in 2019
Willemse het in 2018 saam met die Suid-Afrikaanse gholfontwikkelingsraad (SAGDB) na Skotland gereis en hier die geleentheid gekry om sy rolmodel Tiger Woods in aksie te sien. Hy het ook al Australië besoek om sy gholf talent ten toon te stel.

“Ons is baie trots op hom vir wat hy tot dusver bereik het in gholf. Aidon het in moeilike omstandighede groot geword maar hy het nooit toegelaat dat dit hom definieer nie en ons is dankbaar vir ’n kleinseun soos hy,” sê sy ouma, Doreen Abrahams.

Niemand in die Willemse familie het ’n gholf talent nie en Aidon is die eerste wat in hierdie sport belangstel.

Willemse is tans lid van die Riverside-gholfklub en geniet dit om op dié baan te speel.

*Enige borge wat graag die jong gholfspeler wil ondersteun, kan gerus 060 718 0781 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.