Jong inwoner streef wetenskap-droom na

Een van die Breedevallei se topmatrikulante van Worcester Sekondêre Skool se 2018-klas, Catherine Witbooi (17), is gereed om haar droom, om eendag ’n wetenskaplike te word, na te streef.


Een van die Breedevallei se topmatrikulante van Worcester Sekondêre Skool se 2018-klas, Catherine Witbooi (17), is gereed om haar droom, om eendag ’n wetenskaplike te word, na te streef.

Catherine sê sy is trots op haarself vir dít wat sy sover bereik het. Dié boorling van Scherpenheuwel sal eersdaags as ’n Maties-student bekend staan.

Sy vertrek vandag, Donderdag 24 Januarie, na Stellenbosch om ’n BSc-graad in menslike lewenswetenskappe te studeer. “Ek is meer opgewonde as enigiets anders. Ek voel glad nie op my senuwees nie. Dis ’n nuwe hoofstuk in my lewe waarna ek baie uitsien.”

Sy sê op hoërskool het sy nie gunstelingvakke gehad nie. “Ek is baie nuuskierig en hou van leer. Daarom het ek van al my vakke op hoërskool gehou.” Sy moes in haar hoërskool­loopbaan elke dag met ’n bus na Worcester reis.

Met die onderhoud is dit duidelik dat Catherine baie wys is. Sy beskryf haarself as ’n denker en introvert. “Ek het ’n klein vriendekring en ek kan nie juis myself goed beskryf nie, maar mense sien jou soos hulle jou wil sien.”

Catherine sê sy het in eenvoudige omstandighede grootgeword, maar haar ma, ’n algemene plaaswerker, het gesorg dat niks ooit skort nie. “My ma het altyd ’n plan gemaak. Ek het nooit eens besef ek is minderbevoorreg nie, want daar was nooit ’n tekort nie, want ek het geleer om tevrede te wees.”

Haar motivering aan ander tieners wat dit nie altyd breed het nie maar ’n sukses van hulle toekoms wil maak, is om nie in hulle omstandighede vas te kyk nie. “Doen ook waarvoor jy lief is,” sê Catherine. “Soek vir hulp en onder­steuning, want ’n mens kan dit soms nie alleen doen nie,” voeg sy by

You need to be Logged In to leave a comment.