Jongmense van Worcester het onlangs die geleentheid gehad om op Tafelberg te kamp en nie eens ’n groot reënstorm kon hul entoesiasme demp nie.
Die kamp het tien jeugdiges van die Wildia Environmental and Development-klub en vyf fasiliteerders ingesluit.
Die klub onderneem jaarliks hierdie drie dae lange kamp met jongmense van Worcester.
Hulle gaan kamp altyd by die People’s Trail-hut bo-op Tafelberg.
Die meeste van die leerders op die uitstappie het nog nooit op Tafelberg geslaap nie. Vir sommiges was dit ook die eerste keer dat hulle so ’n bergklimuitstappie onderneem het.
Die spesifieke klubprogram waaraan die jongmense deelgeneem het, heet “Rooted’’. Dit verwys na die wortels wat jongmense in die lewe anker.
Die fasiliteerders het hul boodskappe met praktiese voorbeelde en interessante kursusmateriaal aan die jongmense oorgedra.
’n Baie bekwame gids van Nasionale Parke het die klublede in vervoering gehad met sy omvattende kennis van die veld, geologie en die geskiedenis van Tafelberg.
’n Groot reënstorm die tweede aand het die hele avontuur amper vroegtydig gekelder, maar die kampeerders het nie toegelaat dat dit hul kampervaring bederf nie.
Die groep het ook te doen gekry met ’n toergroep van Amerika, waarna hulle genooi is na onder meer Atlanta en Georgia as deel van ’n toekomstige uitruilprogram.
Lede van die jeuggroep wat die toer meegemaak het, is Lucrain Maksela, Anastycia Hoffman, Aphiwe Cetywayo, John Heyns, Albert Mahooa, Franklin Kriel, Oryan Hufke, Margo Hoffman, Sherolene Burger en Gino Van Wyk. Die fassiliteerders was Denver Boks, Desmond Klaasen, Elizna Fransman, Rubertha de Kock en Wilfred Pheiffer.
Die span is dankbaar vir die organisasies en ondernemings wat die uitstappie moontlik gemaak het.