Junior raad ‘vermag baie’

Die junior stadsraad wat in 2007 begin is en nou in sy negende bestaansjaar is, het Maandag 16 Mei by Worcester Gimnasium sy raadslede vir die nuwe termyn ingehuldig.


Die junior stadsraad wat in 2007 begin is en nou in sy negende bestaansjaar is, het Maandag 16 Mei by Worcester Gimnasium sy raadslede vir die nuwe termyn ingehuldig.

Die junior stadsraad is op die been gebring deur Chipros, ’n niewinsgewende organisasie.

Ouers van die leerders in die uitgaande raad asook ouers van die 2016-2017-raad, tesame met onderwysers en skoolhoofde, het die funksie bygewoon. Burgemeesterskomiteelede Joyce Mei en Eileen Sheldon het ook die geleentheid bygewoon.

Die junior burgemeester vir 2015-2016, Mildri Ellman van Worcester Gimnasium, het die junior stadsraad beskryf as ’n goeie leerskool vir die lewe voor sy die mantel aan Ivana Ceasar oorhandig het.

Ceasar is óók tans ’n leerder by Worcester Gimnasium. Sy het die mense wat haar ondersteun bedank en gesê dat sy opgewonde is om die nuwe hoofstuk saam met haar raad aan te pak.

Die raad bestaan uit 32 leerders van skole reg oor die Breedevallei, van wie agt op die uitvoerende komitee is.

Die ingehuldigde lede wat saam met Ceasar hierop gaan dien, is Astrid Bothman, stadstesourier, Joh-Mari Marais, gemeenskapskakelbeampte (albei van HTS Drostdy), Louwelda Louis, skoleskakelbeampte, Xavier van der Merwe, openbare skakelbeampte (albei van Hoërskool Goudini), Willa Marie Roux, stadsklerk (van Worcester Gimnasium), Nielen Phillips, onderburgemeester (van Worcester Senior Sekondêr) en Zandile Guza, administratiewe beampte (van Vusisizwe Senior Sekondêr).

Die junior stadsraad-stigter en projekdirekteur, Charles Beukes, sê dit gaan van krag tot krag. “Die 2015-2016-raadslede het hulle goed van hul taak gekwyt en wat hulle so suksesvol maak, is dat hulle op hul eie staan sonder om deel te wees van enige politieke party. Dan vermag hulle so baie elke jaar.”

Beukes bedank Mildri Ellman en al die raadslede wat saam met haar gewerk het. “In dieselfde asem wens ek Ivana Ceasar sterkte toe met die nuwe uitdaging.”

Esmerelda Pekeur, assistentprojekdirekteur, sê dat dit lekker is om te sien hoe die jongmense groei vandat hulle hul amp opneem totdat hulle uittree twee jaar later. “Hulle groei as mense en ontwikkel nuwe leierseienskappe en van die kinders wat stil is begin selfvertroue kry. Aan die einde praat hulle voor ’n saal vol mense sonder om ’n oog te knip. Dis werklik lekker om deel te wees van die Junior Stadsraad en ek wens die nuwe raad alle sterkte toe maar bedank die ou raad vir al hul opofferinge.”

You need to be Logged In to leave a comment.