Boere in die Rawsonville- en Worcester-distrik gaan binnekort meer water tot hul beskikking hê danksy ’n projek deur die nasionale departement van water en sanitasie (DWS).
Die projek beloof om miljoene liter water meer te laat berg vir boere deurdat die wal van die vier kilometer lange toevoerkanaal tot in die Brandvleidam met sowat 30 cm verhoog word.
Volgens die DWS-minister, Senzo Mchunu, sal die projek na verwagting in September voltooi wees.
Mchunu het Rawsonville verlede week besoek om na die werk by die kanaal te kyk en te sien of alles glad verloop.
Die projek van R21 miljoen behels dat die wal verhoog word om bykomende water, wat van die Holslootrivier af herlei word, vir landboudoeleindes te berg.
“Ons is hier om vir die boere te sê dit is nie meer net stories van als wat ons nog moet doen nie; die mense werk hier en daar is masjiene,” het die minister in sy toespraak gesê.
Mchunu sê minstens 4 400 ha grond kan met die bykomende water natgelei word. Die projek word reeds vir die laaste 12 jaar beplan.
Mchunu het Vrydag 1 April ook ’n draai in Tulbagh gemaak, waar hy die herlewing van die Groendruppel-sertifiseringsprogram geprys het. Dié program dien as hulpmiddel vir sy departement om as reguleerder van die water- en sanitasiesektor op te tree.
Mchunu was aan die woord by ’n prysuitdelingsgeleentheid in Tulbagh, wat saamgeval het met die vrystelling van die groendruppelverslag vir 2022. Die doel was om uitgesoekte munisipaliteite aan te moedig om die algehele verbetering van munisipale afvalwaterbestuur te verbeter.
Mchunu het saam met die groendruppelverslag ook die bloudruppelvorderingsverslag bekendgestel.
Hy het in sy toespraak verduidelik dat die DWS in 2008 die bloudruppel- en groendruppel-sertifiseringsprogram begin het om inwoners onderskeidelik teen besoedelde drinkwater en omgewingskade weens rioolvuil te beskerm.
Volgens Mchunu word met dié twee programme beoog dat munisipaliteite hulle teen internasionale standaarde vir watergehalte en die bestuur van afvalwater kan meet.. Die gasheer-munisipaliteit, Witzenberg, het op die dag as die grootste wenner uit die stryd getree.
Witzenberg het die volgende pryse losgeslaan: Die top-drie beste presterende afvalwaterstelsel; die top-drie munisipaliteit wat die beste presteer, en ook ’n groendruppel-sertifisering omdat drie uit dié munisipaliteit se vier afvalwatersuiweringsaanlegte ten volle funksioneel is.