Kansa huldig kankerstryders

Die sesde Kansa Relay for Life vind Saterdag 17 en Sondag 18 Oktober by HTS Drostdy se sportterrein plaas. Reëlings vir die gewilde geleentheid is goed op dreef en daar heers groot opgewondenheid onder die spanne wat ingeskryf het. Dit begin om 15:00 met ’n spesiale geleentheid vir Worcester se kanker-oorwinnaars; daarna sal hul versorgers…


Die sesde Kansa Relay for Life vind Saterdag 17 en Sondag 18 Oktober by HTS Drostdy se sportterrein plaas.

Reëlings vir die gewilde geleentheid is goed op dreef en daar heers groot opgewondenheid onder die spanne wat ingeskryf het.

Dit begin om 15:00 met ’n spesiale geleentheid vir Worcester se kanker-oorwinnaars; daarna sal hul versorgers en familie om 17:30 by hulle aansluit. Die openingseremonie word om 18:00 gehou, gevolg deur die oorwinnaar-ererondte en dan begin die “relay”.

Om 21:00 sal die baie spesiale luminaria-seremonie plaasvind. Luminaria-sakkies is teen R10 by die Kansa-kantoor te koop.

Almal is welkom om ’n kersie te kom aansteek ter herinnering aan ’n familielid of vriend wat die stryd teen kanker verloor het.

Plaaslike kunstenaars soos Blackie Swart van Worcester FM, Wicus le Roux en Eugene Vos van Maroelaboom-faam sal die dag optree, terwyl daar allerhande pretrondtes op die baan sal wees.

Die spanne sal by stalletjies allerlei lekker kos- en drinkgoed verkoop.

Die geleentheid sal ’n nag van pret vir alle ouderdomme wees.

“Onthou, die kankerpasiënt stry 365 dae van die jaar – of dit nou koud of warm is, reën of sonskyn. Ek en jy moet vir een nag ons slaap op­offer,” sê Christa Claassen van Kansa Worcester.

“Die Relay for Life-komitee vra mense baie mooi om vir een nag die geraas by die skoolsportterrein te verduur. Dink daaraan: Dit is om die pad wat die pasiënt moet loop, makliker te maak.”

Die hekke is oop van 17:00 tot 20:30 vir besoekers en toegang kos R10.

Vir meer inligting, bel Christa Claassen by 023 342 7058

You need to be Logged In to leave a comment.