Wanneer die toetsuitslag wys iemand het kanker, voel hulle – en hul familie – dikwels oorweldig en bang vir die onbekende wat voorlê.
Dit is hier waar Kansa intree om hul hande sterk te maak en hulle met ondersteuning en raad te bedien.
Hoewel die plaaslike span sedert die Covid-19-pandemie nie meer ‘n kantoor in Worcester het nie, is hulle steeds net so bedrywig soos voorheen. In plaas daarvan dat mense na hul kantoor toe kom, reis hulle self om besoeke te gaan doen.
Die span bestaan uit Esmeralda Booysen (fondsontwikkelingsbeampte), Hayley Peters (dienstekoördineerder) en dr. Rudolph Scharneck (voorsitter van die vrywilligerkomitee in die Wes-, Suid- en Noord-Kaap en die Bolandstreek).
Dr. Scharnek is ook ‘n leraar by die NG Kerk Goudini. Die span bedien kankerpasiënte met emosionele ondersteuning in hierdie stresvolle tyd en probeer, waar moontlik, fisieke ondersteuning bied, soos om produkte of toerusting te verskaf soos rolstoele, loop-rame, hospitaalbeddens en eierdopmatrasse, en bied ook pruike en borsprosteses aan. Nog ‘n kruk wat mense deur hierdie uitdagende tyd kan help, is om by Kansa se ondersteuningsgroep betrokke te raak – dit is nie nodig om die pad alleen te stap nie.
Vir diegene wat ver is of nie besoek kan word nie, gee Kansa die opsie van teleberading, waar emosionele steun telefonies gegee word. “Daar is duisende mense van oor die land heen – soms selfs buite die landsgrense – wat van hierdie diens gebruik maak,” het Booysen gesê.
“Die personeel by Kansa bied pasiënte toegang tot spesialiskennis oor hul toestand. Kansa het ook huise in Kaapstad, waar pasiënte kan oorbly wanneer hulle die hospitaal moet besoek – dit help hulle om hul uitgawes te beperk,” het sy gesê.
Om hierdie steun te kan aanbied, het Kansa verskeie projekte deur die jaar om geld in te samel. Hulle nooi die gemeenskap om deel te neem en só hul bydrae te lewer om kankerpasiënte te ondersteun.
Met September, wat ‘n bewusmakingsmaand vir kinderkanker is, hou Kansa op Saterdag 20 September ‘n 5-km-stap by Jason’s Hill buite Worcester. Die Saterdag daarna (27 September) hou hulle ‘n Shavaton by Wynland Primêre Skool se Uilefees.
Van hul ander aktiwiteite sluit in Kansa se bekende Relay for Life, waar deelnemers aan ‘n deurnagstap in aflosspanne deelneem. Dit vind volgende jaar op 31 Januarie en 1 Februarie plaas.
Kansa hou ook Cuppa for Cansa, Cansa Active-sportaktiwiteite en die vrolike Shavatons, waar mense se hare geskeer of gekleur word.
“Ons wil mense graag aanmoedig om betrokke te raak. Skenkings van toerusting wat kankerpasiënte gebruik, sal baie welkom wees,” het dr. Scharneck gesê. Dit kan by Standard & Breederivier Gazette se kantoor by Hoogstraat 116, Worcester, afgelaai word.
• Besoek Kansa se webwerf by cansa.org.za of bel Booysen by 079 608 3391, Peters by 067 894 6301 of dr. Scharneck by 074 124 9327 vir nog inligting.




