AFGETREE: Kaptein Bérita Jones het die tuig op 30 September vanjaar ná meer as 41 jaar diens in die Suid-Afrikaanse Polisiediens neergelê. Sy was in Worcester gestasioneer.

‘n Vrouekaptein van die Worcester-polisiekantoor het besluit om ná ‘n lang en produktiewe loopbaan in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) halt te roep.

Kaptein Bérita Jones, wat in 1983 aan die Hoërskool Montana gematrikuleer en dieselfde jaar op 30 Desember by die polisie in Worcester aangesluit het, het op 30 September vanjaar ná 41 jaar en nege maande in diens van die polisie die tuig neergelê.

Jones het haar opleiding in 1984 van Januarie tot Junie by die Polisie-opleidingskollege in Pretoria ondergaan. Daarna is sy na die Worcester-polisiekantoor uitgeplaas, waar sy as ‘n konstabel begin werk het.

“Daardie jare is vroulike polisiebeamptes nie toegelaat om buite te werk nie. Ek was in die afdeling sigbare polisiëring ingedeel, waar ek skofte in die Gemeenskapsdiens-sentrum (GDS) – voorheen die aanklagkantoor (AK) genoem – gewerk het,” vertel Jones.

Hoewel sy haar hele loopbaan by die Worcester-polisie gestasioneer was, het sy hier in verskeie afdelings diens verrig en verskillende poste beklee.

Sy is in 1988 tot sersant bevorder, waarna sy talle administratiewe poste beklee het. “My operasionele loopbaan het as’t ware begin toe ek in Desember 1990, ná my bevordering tot adjudant offisier, by die afdeling misdaad-intelligensie begin werk het. Ek het sewe jaar daar gewerk,” vertel Jones verder.

Tussen haar veeleisende take deur het Jones haar verder bekwaam. Sy het afstandsonderrig deur Technikon RSA gedoen en die Nasionale Diploma in Polisie-administrasie verwerf.

Luitenant – vir net een maand

Jones is op 1 Junie 1995 Jones tot luitenant bevorder – ‘n rang wat sy vir slegs ‘n maand sou beklee omdat die polisie se rangherstrukturering kort daarna in werking gestel is. Die luitenant-rang het weggeval en die rang van kaptein is toe aan haar toegeken, wat sy tot haar aftrede beklee het.

Jones was die hoof van verskeie afdelings by die Worcester-polisiekantoor. Sy was sewe jaar lank die bevelvoerder van die misdaadvoorkomingseenheid. Van Mei 2005 tot haar aftrede was sy vir 20 jaar die drankoffisier vir Worcester en is later, nadat sy in 2012 ‘n kursus deurloop het, as nasionale inspekteur (ingevolge die Nasionale Drankwet) aangestel.

Gedurende 2020 het sy ‘n bykomende pos – dié van Flash-bevelvoerder (Firearm, Liquor and Second Hand Goods), beklee. Verder was sy die Kaapse Wynlande-distrik (23 polisiekantore) se verteenwoordiger as drankoffisier.

Jones was nie net ‘n dapper en hardwerkende polisiebeampte nie, maar ook ‘n kranige sportvrou wat op nasionale vlak meegeding en verskeie medaljes ingeoes het.

“Ek was ook bevoorreg om die polisie in verskillende sportsoorte by polisie- en ander sportbyeenkomste te verteenwoordig,” vertel ‘n beskeie Jones.

In 2008 en 2009 het sy die polisie se Wes-Kaapse netbalspan as middelsenter by die nasionale kampioenskap verteenwoordig, waar die span goue medaljes verower het. Gedurende 2017 het sy die Wes-Kaapse polisiespan by die Nasionale Korporatiewe Spele verteenwoordig en die 10-km-wedloop gewen het.

Voorts het sy die polisie in 2019 in die nasionale kampioenskap in die 75-km-uithoustap-item verteenwoordig en die vroueafdeling gewen. Jones sê sy het die polisiediens met ‘n baie swaar gemoed verlaat. “Ek was hartseer toe ek die laaste keer met my uniform uit die polisiegebou gestap het. Ek het my uniform met trots gedra en soveel passie vir my werk gehad,” sê sy.

Sy het haar kollegas vir hul ondersteuning en bydrae gedurende haar tyd in die polisie bedank. “Ek kan net dankie sê aan elke bevelvoerder en kollega wat ‘n bydrae gelewer het tot die mens wat ek vandag is,” het sy dankbaar gesê.

En wat is dié voormalige polisiebeampte se planne ná aftrede?

“Vir jare moes ek eers dagboeke, kalenders en dienslyste raadpleeg voordat ek enige persoonlike planne kon maak of uitnodigings kon aanvaar.”

“Ek het soveel Kersfeesetes, Paasfeeste en familie- en vriende-byeenkomste misgeloop. Al waarna ek dus nou wil kyk, is my eie persoonlike kalender en beursie.

“Ek wil ook graag meer aandag aan my familie en vriende gee, seldoen-projekte aanpak en meer veld-staproetes aandurf,” verduidelik die energieke Jones haar toekomsplanne. Sy sê verder sy is nie juis iemand vir ledig wees nie.

“Ek kan nie stil sit nie. Ek is sover geseënd met goeie gesondheid, so ek wil solank ek kan ‘n aktiewe lewe geniet.” – Norman Evertson

You need to be Logged In to leave a comment.