Kinders gaan langer in die klas wees

Plaaslike skole sal vanjaar minstens 170 van die 199 skooldae aan klasgee moet wy.


Plaaslike skole sal vanjaar minstens 170 van die 199 skooldae aan klasgee moet wy.

Volgens dr. Brian Wilson, hoof van kurrikulum by die Kaapse Wynland-onderwysdistrik, is dit een van die groot fokuspunte om uitslae verder te verbeter.

Die 170 dae is wat nodig is om die kurrikulum te voltooi; die res is vir eksamens en ander bedrywighede.

Wilson sê toe onderwysers verlede jaar die tyd moes aanteken wat aan dinge soos civvie-dae en sportaktiwiteite bestee is, was hulle self geskok oor hoeveel klastyd verlore gaan. Die WNNR het ook bevind dat SA skole gemiddeld net 85 dae van die jaar klasgee.

Daarom moes skole in die Vallei in die vierde kwartaal al afteken dat administratiewe take soos roosters opstel en die uitdeel van handboeke afgehandel is, sodat klasgee vanjaar op dag een kan begin.

Skole moet ook teen môre (Vrydag) die name, vakke en vordering van elk van verlede jaar se gr. 11’s aan die departement deurgee sodat beamptes kan sien hoe hulle die gr. 12’s kan ondersteun.

Dit is afgesien van wat reeds tot die goeie slaagsyfer bydra, soos vak-spesifieke ontledings van waar leerders in elke skool meer aandag nodig het, asook ekstra hulp aan vorderingsleerders (wat tot gr. 12 gevorder het omdat hulle nie meer as een keer in ’n fase mag druip nie).

Hoewel vakansieskole sal voortgaan, sal die departement toesien dat dit nie deur sommige skole gebruik word om werk in te haal nie – dit behoort net vir verdere vaslegging te wees.

Juan Benjamin, direkteur van die onderwysdistrik, vra op sy beurt ouers om meer vertroue in hul kinders te hê. “As hulle in hul kinders glo, sal hulle presteer.”

Hy sê baie skole het met vanjaar se slaagsyfer reeds gesien hulle kán presteer, en hy moedig hulle aan om hul harde werk voort te sit.

“Ons is absoluut verheug om ons slaagpersentasie te kon handhaaf.”

You need to be Logged In to leave a comment.