Juliana Galant is aangestel as die nuwe hoof van Tulbagh Kinderversorgingsoord – slegs die tweede hoof in die versorgingsoord se bestaan, nadat Anwynn Orffer ná 26 jaar afgetree het.
Galant is ’n boorling van Beaufort-Wes, waar sy by Laerskool St. Matthews skoolgegaan en aan die Bastiaanse Sekondêre Skool gematrikuleer het.
Sy het vir ’n jaar by Vrolike Vinkies in Ceres gewerk en daarna as gr. R-assistent by Twee Jonge Gezellen VGK Primêr. As opvoeder het sy reeds meer as 12 jaar ondervinding.
Volgens haar was sy eers glad nie entoesiasties toe sy haar nuwe pos kry nie, omdat almal gesê het dat sy groot skoene het om voel te staan.
Sy het gedink die uitdaging gaan vir haar te groot wees.
Tog voel sy dat sy nie daar is om iemand anders se groot skoene vol te staan en in die vorige hoof se voetspore te volg nie. “Ek is hier om my eie klein skoene aan te trek, my eie klein voetspore te trap en my eie klein voetspore vol te staan.”
Alles kom met tyd, sê sy, en as jy die passie het kan niemand jou daarvan weerhou om dit uit te leef en jou beste te gee nie.
Haar visie vir KVO is om ’n veilige, gesonde en positiewe omgewing te skep wat inklusiwiteit weerspieël.
Sy sien daarna uit om met ouers en die gemeenskap saam te werk aangesien hul die grootste ondersteuners is by funksies.
Ten laaste sien sy daarna uit om met haar personeel saam te werk en wil sy hê hulle moet dit ook so sien.
Sy glo hulle moet ’n oop verhouding met mekaar hê en gemaklik wees, maar glo ook aan wedersydse respek vir mekaar.