Matrikulante in die Breedevallei-onderwysdistrik het in 2020 te midde van die pandemie steeds ’n slaagsyfer van 72,96% behaal.
Altesaam 1 716 matrikulante het hier geskryf en altesaam 1 252 het geslaag.
Debbie Schäfer, die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, het die matrikulante en onderwysers gelukgewens met hul prestasie te midde van die unieke uitdagings wat die pandemie gebring het.
“Ons slaagsyfer het nasionaal met die minste gedaal – 2,4% – terwyl die nasionale daling 5,1% is,” sê sy.
Die Wes-Kaap pronk met die hoogste aantal universiteitstoelatings nog, met 22 634 kandidate uit 51 633 wat vir universiteit kwalifiseer.
In die Breedevallei het talle matrikulante verwagtinge oortref.
Worcester Gimnasium het ’n uitstekende 100%-slaagsyfer behaal en die eerste keer in sy geskiedenis die 90%-universiteitstoelating-kerf verbygesteek.
“Dit is absoluut net genade en ons bars van trots. Leerders en onderwysers het skouer aan die wiel gesit te midde van die pandemie wat hulle in die gesig gestaar het,” sê Charl Schoeman, die skoolhoof.
Schoeman skryf die sukses toe aan ’n “gemeenskapspoging”, met die skool wat ondersteuning uit die gemeenskap geniet het.
“Ons het reeds vier jaar gelede begin om tegnologie in die klaskamer te verwelkom. Min het ons geweet dat ons dit so broodnodig gaan hê.”
Alles het nie altyd vlot verloop met die tegnologie nie, maar onderwysers wat leerders aanhou aangemoedig het om nie op te gee nie, het ook ’n reusebydrae tot dié slaagsyfer gelewer.
Pionierskool het sy 100%-slaagsyfer herstel teenoor die klas van 2019 se syfer van 83,3%.
“Ons is baie trots op ons vier matrikulante wat hard moes werk om die prestasie agter hul naam te kry. Dit is ’n groep leerders wat unieke uitdagings moes oorkom. Hulle kon nie soos ander op die WKOD se webtuistes gaan nie en onderwysers moes per WhatsApp inligting vir hulle voorlees,” sê die skoolhoof, Michael Bredenkamp.
Die skool moes ook sosiale omstandighede oorkom met ouers se data-pakkette wat tydens die inperking swaargetrek het.
“Die leerders het van hul kant af ook gereeld met onderwysers gekommunikeer. Dit was werklik ’n spanpoging en albei partye het die ekstra myl gestap. Met die leerders se terugkeer kon ons ook ons kinders ononderbroke ondersteun, wat baie van die hoofstroomskole nie kon doen nie,” sê hy.
De La-Batskool vir dowes het weer ’n 100%-slaagsyfer behaal. Die skool het ’n klas van 13 leerders vir 2020 gehad.
Langerug en Hoërskool Goudini pronk ook met ’n 100%-slaagsyfer.
HTS Drostdy se klas van 199 leerders het ’n slagsyfer van 98,5% behaal. Arthur Underhay, die skoolhoof, is in die Desembervakansie weens Covid-19 oorlede.
“Ons sou baie graag die sukses met hom wou deel, omdat hy ons deur ’n moeilike jaar gedra het. Die matriekuitslae wys ons leerders was gefokus en doelgerig om steeds te presteer. Dit het hulle vir seker vermag,” sê Louis Steyn, die waarnemende hoof. Hy sê die onderwysers moes baie klasse aanlyn aanbied en moes baie oorkom om die pad na sukses ’n vrugbare een te maak.
“Ons almal weet daar was nie ander aktiwiteite soos ’n matriekafskeid of sport waarna die klas van 2020 kon uitsien nie. Ons het hulle meegedeel dit is nou die ideale geleentheid om op hul akademie te fokus, en hulle het ons verwagtinge ver oortref.”
Die Hoërskool Montana se klas van 77 kandidate het ’n slaagsyfer van 97,4% behaal. Altesaam 78% van die matrieks het met universiteitstoelating geslaag.
Esselenpark Sekondêr het die grootste matriekklas in die Vallei gehad – 220 kandidate. Die skool het ’n slaagsyfer van 54,1% behaal. Sy buurskool, Hoërskool Breërivier, het ’n slaagsyfer van 60% behaal.
Nog ’n prestasie waarop die Vallei trots is, is dié van die Hoërskool Somerset wat vanjaar ’n slaagsyfer van 74,5% behaal het. Die skool se slaagsyfer het aansienlik verbeter teenoor sy 48,3% in 2019.
“Ons is trots op ons leerders en onderwysers wat die nodige gedoen het. Dit was vir ons ’n verbasend goeie jaar en die onderwysers het seker gemaak hulle stap altyd die ekstra myl,” sê Andries du Toit, die hoof.
Du Toit het ook die Kaapse Wynland-distrikskantoor vir sy ondersteuning te midde van die uitdagings bedank.
“Ons jaag vanjaar die 100%-slaagsyfer na,” het Du Toit aan Standard gesê.
Worcester Sekondêr het ’n klas van 172 kandidate vir die 2020-eindeksamen geregistreer en 89 kandidate het gematrikuleer. Die skool se slaagsyfer het aansienlik verminder van 65,8% in 2019 tot 51,7% in 2020.
Vusisiwe Sekondêr in Zwelethemba het ’n slaagsyfer van 69,6% behaal. Die skool het 181 kandidate vir 2020 geregistreer en 126 kandidate het gematrikuleer.
Die Hoërskool Van Cutsem se slaagsyfer het weer bestendig vertoon met ’n slaagsyfer van 71,6%.
In De Doorns het 193 leerders in 2020 die matriekeindeksamen geskryf.
Die Hoërskool Hexvallei het 35 kandidate gehad en ’n slaagsyfer van 82,9% aangeteken.
Hexvallei Sekondêr het dié dorp se meeste kandidate ingeskryf met 158 kandidate wat die skool gekies het om hul matriekeindeksamen af te lê. Die skool het ’n slaagsyfer van 61,4% geregistreer.
In Touwsrivier het De Kruine Sekondêr ’n slaagsyfer van 58,4% behaal, wat veel minder as die vorige jaar se 95,6% is.
Die klas van 2020 het gewis unieke uitdagings oorkom en talle hoogtepunte staan steeds in verlede jaar se uitslae uit.. Lees later die week meer op ons Netwerk24-platform oor ons streek se topkandidate, asook in aanstaande week se koerant.