Klasmaats bly om saam te wees

Die Covid-19-pandemie of Eskom se beurtkrag kon die klas van 2001 van Hoërskool Worcester Gimnasium nie keer om hul 20 jaar reünie te hou nie.


Die Covid-19-pandemie of Eskom se beurtkrag kon die klas van 2001 van Hoërskool Worcester Gimnasium nie keer om hul 20 jaar reünie te hou nie.

Die klasmaats het Saterdag 4 Desember van heinde en ver gekom om weer die ou vriendskapsbande te smee en te hoor hoe dit met mekaar gaan.

Die reünie het met ’n skooltoer onder leiding van Eloize du Preez (Van Niekerk) begin. Eloize is vandag ’n onderwyser by Worcester Gimnasium. Dit was vir die groep fassinerend om te sien hoe baie die onderwys in die kort tyd van 20 jaar verander het – met verskeie nuwe vakke soos Mandaryns, ingenieursgrafika en ontwerp, gasvryheidstudies, toerisme ensovoorts. Dit was ook opvallend hoe daar met die tradisionele swartbord weggedoen is, en hoe leerders vandag met tablette en skootrekenaars in die klas werk – en dat handboeke vandag aanlyn is.

Van die hoogtepunte is toe Rouan Hugo die geleentheid gekry het om persoonlik die skoolklok te kon lui en toe die bekende plaaslike rekenmeester, Petrus Carstens, weer sy ou rekeningkunde klas kon besoek.

Die reünie is daarna by Die Stalle in Rawsonville voortgesit.

Dit is ook opvallend hoeveel uitblinkers daar in die jaargroep is. Baie van die groep het hul merk in administrasie en as verpleegsters in die gesondheidsorg gemaak, terwyl die res in sakeontwikkeling en ook as ’n sielkunde-dosent uitblink. Die res het hulself in finansies, IT, landbouprojek­beplanning, onderwys en wynbedryf bekwaam.

Een klasmaat is bevoorreg om al te kan aftree. Drie klasmaats van hierdie jaargroep is al oorlede.

Die groep bedank Henk Theron (oudhoofseun), Yolandi Campbell en Riaan Engelbrecht (oud-prefekte) wat die reünie gereël het.

Die groep gaan ook poog om oor vyf jaar weer ’n reünie te hou.

You need to be Logged In to leave a comment.