Klein Anieka behaal groot skaakprestasie

Anieka Matthee, ’n graad 1-leerder aan Worcester-Noord Primêre Skool, is klein, maar ge-train.


Anieka Matthee, ’n graad 1-leerder aan Worcester-Noord Primêre Skool, is klein, maar ge-train.

Anieka is 9 Oktober by die Boland-skolesporttoekennings in die Paarl as laerskole-sportvrou van die jaar vir skaak aangewys. Sy was ook een van die topdrie- algehele laerskole-sportvroue. “Ek was trots op myself die eerste keer toe ek die trofee vashou,” sê Anieka.

Volgens haar afrigter, Abdurra Jacobs, kraai Anieka, wat eers in Februarie vanjaar begin skaak speel het, gereeld koning in kompetisies. “Die wenpersentasie van haar wedstryde is 97% en sy het ’n uitmuntende gradering van 970, wat nie maklik is om te bereik nie,” sê Abdurra.

Van haar ander skaakprestasies sluit in haar oorwinning in die Worcester-Noord- Koning- en Koningin-kompetisie; sy is gekies vir die Wes-Kaapse o.7-laerskolespan; sy was die beste bordspeler by die Kaapse Wynland- Topskole-kompetisie; en die beste o.8-speler by die Overberg-kompetisie.

Anieka oefen drie keer ’n week vir ’n uur lank. “Sy sit baie in. Sy oefen ook op haar eie en speel soms met legkaarte. As sy ’n geleentheid kry om te speel, dan gryp sy dit aan, al is dit met ’n volwassene of ’n medeleerder,” sê die trotse afrigter.

“Sy is een van die min kinders wat vinnig leer. Sy neem inisiatief om op haar eie ook te oefen. Sy is ernstig oor haar skaak. Een van haar drome is om ’n Junior Springbokkie te word,” voeg Jacobs by.

Anieka sê haar ma woon elke wedstryd en oefensessie by. Sy het geen twyfel oor haar gunstelingstuk op die skaakbord nie.

“Ek hou van die dame (koningin), want dit kan enige plek beweeg en dis een van die kragtigste stukke op die skaakbord,” sê Anieka met trots.

You need to be Logged In to leave a comment.