Dit was ’n kleurryke dag.
Die Universiteit Stellenbosch se Ukwanda Landelike Kliniese Skool se jaarlikse kleurpretstap is Saterdag 2 Maart in Worcester aangebied.
Die doel van dié pretstap was om die studente deel te laat vorm van die Ukwanda-familie en die bewusmaking van dié skool in die gemeenskap.
Die pretstap het omstreeks 10:00 by die plein oorkant die rolbalklub begin. Van daar het die span tot by die Ukwanda-kampus gestap.
Die Ukwanda-personeel, studente en die orkes is deur twee verkeersbeamptes begelei.
Daar was ook ’n orkes wat die deelnemers en ondersteuners vermaak het.
“Die pretstap het weer die kind in die volwassenes uitgebring. Een van die ouer kollegas het baljaar met ’n watergeweer waarmee hy deelnemers asook ’n paar van die toeskouers natgespuit het,” sê die bemarkings-intern, Jacques Burger.
Die koördineerders van die geleentheid het alle ondersteuners en die borge bedank wat die dag moontlik gemaak het.