Kollege bied meer as net ’n opleiding

Baie mense meen die Wes-Kaapse gemeenskapsonderrig- en -opleidingskollege, of die sogenaamde aandskool, is net vir skoolverlaters en dat dié kollege jou niks in die sak gaan bring nie.


Baie mense meen die Wes-Kaapse gemeenskapsonderrig- en -opleidingskollege, of die sogenaamde aandskool, is net vir skoolverlaters en dat dié kollege jou niks in die sak gaan bring nie.

Volgens Muriel Louw, ’n student wat tans haar matriek dáár doen, het dit al haar verwagtinge oortref.

“Die kollege het my baie gehelp en help my steeds. Ek was eers bang om hierheen te kom omdat ek ’n wanvoorstelling van die kollege gehad het. Die dag toe ek hier instap, was ek baie verbaas,” vertel Muriel.

Muriel het verlede jaar haar vlak 4, gelykstaande aan graad 9, by dié kollege voltooi. In dié tyd het sy uitgevind sy is swanger.

“Vir my was dit nie ’n terugslag nie. Ek is ’n harde werker en ek het geweet dat ek nou my bes moet doen. Ek het ’n tweede kans gekry om uit my omstandighede te kom en vir my en my baba ’n goeie toekoms te bou,” sê sy.

Sy sê sy kan nie aan ’n beter plek dink om haar matriek te voltooi nie.

“Hier is nie so baie druk op jou soos by die skool nie, maar jy moet hard werk om die uitslae te kry wat jy graag wil hê. Jy sal bo uitkom. Die omgewing is baie anders as dié van ’n skool, maar die onderwysers hier is ook bereid om die ekstra myl saam met jou te stap,” het sy gesê.

Muriel sluit af en moedig mense aan om by die kollege aan te sluit.

You need to be Logged In to leave a comment.