Somer is hier met temperature wat vandeesweek skerp styg.
Die munisipale swembad in Dirkie Uysstraat in Robertson het sy hekke wyd oopgegooi en bied gesinne die geleentheid om af te koel en selfs te braai.
Die swembad-kompleks kan tot 850 mense toegang bied en die braaiplekke is beskikbaar vir diegene wat eerste opdaag.
Die swembad is Maandae tot Saterdae van 10:00 tot 18:00 oop en van 12:00 tot 18:00 op Sondae.
Veiligheidspersoneel en tydelike werkers sal toegangsbeheer toepas. Tydens piektye tussen 15 Desember en 15 Januarie sal bykomende veiligheidspersoneel ook op die perseel wees.
Twee menseredders is aan diens, maar besoekers word gemaan dat hulle die swembad op eie risiko gebruik. Ouers en voogde moet oor hul kinders by die swembad toesig hou.
Die toegangsgeld het beduidend gestyg: Volwassenes betaal R42 en kinders R28. Gereelde besoekers kan seisoenkaartjies koop teen R569 en maandkaartjies teen R336.
Die munisipaliteit het op inwoners se klagtes oor die groot prysstyging gesê die tariewe vir alle munisipale fasiliteite word jaarliks deur die raad tydens die begrotingsproses en ingevolge die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) goedgekeur.
“Hierdie tariewe word jaarliks op grond van bedryfskostes hersien. Inwoners word aangemoedig om hul insette op die komende openbaredeelname-begrotings- en GOP-vergaderings te kom lewer.”
Volgens die Langeberg-munisipaliteit geld die volgende reëls by die swembad om te verseker dat dit vir almal ‘n aangename ervaring is:
• Behoorlike swemklere word vereis en besoekers mag nie in denims, T-hemde en onderklere swem nie;
• Geen alkohol word toegelaat nie;
• Moenie om die swembad hardloop nie en moenie aan die vlak kant duik nie.
• Alle kos en drinkgoed moet uit die swembad gehou word en onnodige geraas word nie toegelaat nie.


