Krieket uit die boonste rakke

Worcester Primêre Skool (WPS) se onder 11A-span het hulle krieketseisoen op ’n hoogtepunt afgesluit toe dié spannetjie Laerskool Worcester-Oos Woensdag 24 Februarie met 149 lopies verslaan het.


Worcester Primêre Skool (WPS) se onder 11A-span het hulle krieketseisoen op ’n hoogtepunt afgesluit toe dié spannetjie Laerskool Worcester-Oos Woensdag 24 Februarie met 149 lopies verslaan het.

Worcester-Oos het die loot, in die 20 beurt-wedstryd, gewen en die tuisspan ingestuur om te kolf.

WPS-kaptein Ethan Christiaans het van voor af gelei en saam met spanmaat Daniel Suter ’n vennootskap van 197 lopies om die eerste paaltjie aangeteken voor Christiaans, met 3 balle oor in die beurt, uitgehaal is.

Christiaans se beurt van 89 lopies van net 65 balle sluit in sewe viere en vyf sesse. “Ek het eers gemik vir 100, maar daar was nie genoeg boulbeurte nie. En ek was nogal hartseer dat ek uit is met net drie balle oor in die beurt,” het hy aan die Standard gesê.

Oor sy onoorwonne 77, het Suter gesê dit het goed gevoel om sy eerste 50-tal te slaan. “Aan die begin het ek dit stadig gevat en gewag vir ’n swak bal en dit dan gestraf, maar later toe my oog in is het ek groter houe begin speel,” het Suter gesê.

Worcester-Oos het die telling probeer jaag, maar is deur WPS vir slegs 49 uitgeboul in 17.4 boulbeurte.

Die regterhandse draaibalbouler Kyle Valentine het Worcester-Oos aan flarde geboul met sy wegbreekballe en het ses paaltjies vir 5 lopies geneem. “Ek was baie opgewonde toe my spanmaats my toegejuig het en opgetel het. Ek het net my beste gedoen en goed probeer boul,” het hy opgewonde aan die Standard gesê.

WPS se spanbestuurder, Chris Nel, het gesê dit was ’n goeie spanpoging en dat hy baie trots is op sy spelers. “Almal het bygedra tot die sukses van die wedstryd. Alhoewel die drie spelers uitgestaan het, kon ons hulle nie uithaal vir 49 sonder goeie veldwerk en briljante vangskote nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.