Siende persone is geneig om baie dinge in die lewe as vanselfsprekend te aanvaar.
Byvoorbeeld dat ’n blinde, as gevolg van sy swak sig, nie sou belangstel in enige vorm van kuns nie. Dit is egter glad nie die waarheid nie.
En dit word bewys deur die inligtingsentrum, een van die vele inspirerende afdelings by Kaleidoskoop (Instituut vir Blindes).
Die inligtingsentrum bestaan uit ’n tasbare geologiese uitstalling en fossielroete, teater, koffiewinkel en museum.
En nou spog die sentrum ook met ’n kunsopleidingseenheid waar blindes hul diepste gedagtes op doek kan vrylaat.
Kaleidoskoop se missie is om blinde persone, sowel as ander siggestremdes, te bemagtig deur opleiding, ontwikkeling, werksvoorsiening en versorging tot ’n vervulde lewe en volwaardige landsburgerskap.
Ryno Eksteen, ’n befaamde kunstenaar van die Kaap, het besluit om sy kennis met die organisasie se lede te deel.
En sedertdien het die kleurvolste stories op doek vlerke gekry. “Hier beleef ons eerlike kuns,” vertel Eksteen.
En vandag is Kaleidoskoop trots daarop om hul eie kunsgalery, die I-Art-kunsgalery (oogkuns), bekend te stel.
Die unieke fokus van hierdie kunsvertoonlokaal, I-Art-kunsgalery, lê daarin dat blindes se meesterstukke, sowel as unieke tasbare kunswerke uitgestal sal word – ’n sensoriese belewenis veral vir siggestremdes.
Soos Engemi Ferreira, ’n vriend van Kaleidoskoop, onlangs opgemerk het: “Dis wonderlik dat blindes ook kan ‘sien’ – en nog meer wonderlik dat Ryno hulle leer om wat hulle sien, te verf sodat ons siendes ook kan sien wat ons dikwels miskyk.”
Emile Manefeldt, wat deel was van die skeppingsproses en beplanning van die galery, nooi die kunsgemeenskap om deel te wees van die galery.
Die langverwagte amptelike opening van die I-Art-kunsgalery sal Donderdag 22 Oktober om 19:00 te Napierstraat 19, Worcester, plaasvind