Kunstekaap kuier in Breedevallei

Oktober is nie net die mooiste maand nie, maar ook die lekkerste, wanneer van die land se voorste kunstenaars ’n draai op Worcester gaan maak om die mense van die Breedevallei te vermaak. Dinsdag 20 Oktober besoek die Kunstekaap, in samewerking met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, SBA, Media24 en die Breedevallei Munisipaliteit, die dorp om die…


Oktober is nie net die mooiste maand nie, maar ook die lekkerste, wanneer van die land se voorste kunstenaars ’n draai op Worcester gaan maak om die mense van die Breedevallei te vermaak.

Dinsdag 20 Oktober besoek die Kunstekaap, in samewerking met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, SBA, Media24 en die Breedevallei Munisipaliteit, die dorp om die gemeenskap te ontmoet en konsert te hou by die Worcester-stadsaal. Die projek is deel van ’n inisiatief begin deur Kunstekaap se departement van gehoorontwikkeling en opvoeding.

Alistair Izobell, Ivan Siegelaar, Minette Pearce, Donveno Prins, Fancy Galada en Camillo Lombard sal almal by Kunstreffers 2015, ’n konsertervaring uit die boonste rakke, wees.

Die Kaapstad-balletgeselskap sal sorg vir die klassieke element van die program, terwyl Dance for All en Unmute ook vir Afrika- en kontemporêre dans sal sorg.

Die breër gemeenskap van die Breedevallei sal verryk word deur spesiale Kunstekaap Skole-produksies vir skoolleerders, SBA taalslypskole vir onderwysers, asook ’n joernalistieke en kreatiewe skryfslypskool vir onderwysers en leerders, media- en skryfslypskole deur Media24, sowel as ’n glans gala-aand vir die hele gemeenskap.

Die besoek aan die Breedevallei-gebied is reeds die negende een waartydens plattelandse gemeenskappe eerstehands ’n smakie van professionele teater kry.

Kaartjies vir die gala-aand is teen R20 te koop by Breedevallei Toerisme, Baringstraat 23, Worcester.

Navrae: Nelmari van Litsenborgh 0 023 348 2795

You need to be Logged In to leave a comment.