Die Wes-Kaapse regering kan moontlik miljarde rande in finansiering verloor as mense hulle nie laat tel nie.Foto: Dominique Jeftha

Credit: SYSTEM

Kommer heers in die Wes-Kaap oor die moontlikheid dat ’n lae sensustelling hier tot gevolg kan hê dat die provinsie finansiering vir tot 1 615 dokters of 5 981 verpleegsters, en meer as ongeveer 9 300 onderwysers kan verloor. 

Dit is as net 70% van die inwoners by die 2022-sensus getel word.

Allen Winde, die Wes-Kaapse premier, sê as die finansiering verlore sou gaan, sal dit die gehalte van gesondheidsorg- en onderwysdienste wat die provinsie verskaf, ernstig ondermyn – veral in ’n tyd waarin die vraag na hierdie dienste al hoe meer druk word.

Winde sê in geldwaarde gaan die provinsie R9,7 miljard verloor, of meer as 16% van die provinsiale billike aandeel, as net 70% van die inwoners getel word.

“Dit sal R2,6 miljard se finansiering uit ons gesondheidsbegroting en R4,2 miljard uit ons onderwysbegroting sny, met kleiner departemente wat ook verliese sal ly. Kortom, dienslewering in die Wes-Kaap sal oor die algemeen ’n groot knou kry as inwoners nie seker maak hulle word getel nie.”

Winde is bekommerd oor die implikasies van wat kan gebeur as die lae sensustelling voortduur en sê elke inwoner van die provinsie moet ook bekommerd wees.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het teen 5 Mei net 61% van die inwoners getel.

“Alhoewel ons toenames gesien het in die aantal mense wat getel word, bly die getalle te laag. Om dit eenvoudig te stel – as ons net daarin slaag om 70% van die bevolking te tel, sal die beskikbare besteding per persoon met meer as R1 300 per persoon per jaar in die provinsiale billike aandeel verminder word,” sê Winde.

Winde doen ’n beroep op inwoners om die verlengde sensusteltydperk in die Wes-Kaap te gebruik om getel te word.

“Dit is eenvoudig – as ons nie ten volle getel word nie, sal ons nie ons billike deel van die land se begrotingstoewysing kry om kritieke dienste soos onderwys en gesondheidsorg vir jou te lewer nie.”V Jy kan nog tot Saterdag 14 Mei aanlyn getel word. Besoek getcounted.statssa.gov.za (dit is ’n datavrye webtuiste) en vul die vraelys in, of skakel 0800 110 248 of stuur e-pos na census2022@statssa.gov.za.

You need to be Logged In to leave a comment.