Die Noord-Bolandse atletiekbyeenkoms, wat die afgelope naweek op Bolandpark in Worcester gehou is, het die beste atlete van primêre skole uit Swellendam, Montagu, Ashton, Bonnievale, Robertson, Worcester, Rawsonville, De Doorns en Touwsrivier gelok.
Mammas en pappas het al vroegoggend hul jong atlete begin regkry vir die groot dag wat voorlê en die 60 m-wedlope vir die jongstes het gou almal se aandag getrek.
Van die groot uitblinkers op die dag was Christolique McNiel van Avianpark Primêr met ’n uitstekende 2:27:81 in die 800 m vir meisies o.13.
Jo-Ekke Haas van Victoriapark Primêr, wat ook die SA kampioen in die 150 m-hekkies is, het ’n uitstekende 30:69 in die 200 m-hekkies vir meisies o.13 aangeteken en. Sy het ook die 75 m-hekkies gewen.
Jivhano Melouw (o.13) het ’n uitstekende tyd van 28:97 gehardloop in die 200 m-hekkies vir seuns.
In die diskus-item vir seuns o.13 het Jaco Steyn van Robertson se gooi van 35.98 m almal verbaas. Nitida Hayes, ’n o.13-meisiesatleet van Worcester-Noord Primêr, het ’n baie goeie tyd van 8:41.75 in die 1 500 m-stap opgestel.
Die atlete van die Langebergstreek het in die algemeen die velditems oorheers, terwyl die atlete van Worcester in die baanitems grotendeels baas was.
Eerskomende Saterdag neem Noord-Boland se atlete deel aan die Boland-kampioenskapsbyeenkoms in die Paarl. Die atlete wat daar onder die eerste vier in die veld- en baanitems eindig, sal gekies word om die Bolandse laerskoolatletiekspan by die Wes-Kaapse kampioenskapsbyeenkoms wat op 3 Maart in Oudtshoorn gehou word, te verteenwoordig.
Die atlete wat by die Wes-Kaapse kampioenskap onder die eerste drie plekke klaarmaak, sal die provinsie by die Suid-Afrikaanse kampioenskap wat in Paarl by die Dal Josaphat-stadion gehou gaan word, verteenwoordig.
Dié baan is een van slegs drie in die land wat ’n IAAF-gradering het.