Margaret Maritz, die land se oudste persoon, is vanoggend oorlede. Foto: verskaf

Suid-Afrika se oudste inwoner en een van die oudstes in die wêreld, Margaret Maritz, het haar laaste asem vanoggend (29 Julie) saggies in Touwsrivier uitgebeblaas op 118 jaar.

Sy sou in September haar 119e verjaardag vier en die personeel van die AGS Tehuis vir Bejaardes in Touwsrivier het reeds voorbereidings begin tref. Dit was ‘n hartseer dag, want “Ouma”, soos sy bekend staan, was baie geliefd.

Sou haar geboortedatum, wat op haar ID-dokument aangedui word as 27 September 1906, offisieel bevestig word, sal dit haar ouer maak as Ethel Caterham van die Verenigde Koningkryk, wat op 115 jaar deur die gerontologie-navorsingsgroep in Amerika as die oudste lewende persoon gereken word. Die persoon wat die hoogste ouderdom bereik het wat bevestig is, is Jeanne Clament van Frankryk wat op die ouderdom van 122 jaar en 164 dae oorlede is.

Maritz was baie geliefd onder die personeel en inwoners, het suster Eleanor Fourie gesê. “Sy was ‘n saggeaarde mens en woon sedert 2015 by die tehuis. Sy was baie gesond en het slegs ‘n pilletjie vir bloeddruk en een vir waterretensie geneem. Nie eens ‘n enkele bedseer nie en het goed geëet. Sy het nog vir ons glimlag en antwoord met ‘n ‘more’ ,” het Fourie gesê. “Sy het onlangs ‘n ligte verkoue gehad en het ná haar antibiotika goed herstel. Sy het baie saggies heengegaan, dit het gelyk asof sy slaap.”

Maritz, wat se lewe oor twee wêreldoorloë en groot veranderinge soos die koms van rekenaars en nuwe tegnologie gestrek het, het ook die Covid-pandemie oorleef en slegs geringe simptome getoon, is vroeër berig.

Haar oudste dogter Gertryda, self reeds bejaard, woon ook in Touwsrivier. Sy het nog ‘n dogter, Liza Daniels, wat in Kaapstad woon. Haar man, Johannes, is lank reeds oorlede.

You need to be Logged In to leave a comment.