Lê tuig na 39 jaar diens neer

’n Onderwyser van Pionierskool tree af, nie net uit 39 jaar diens nie, maar ook 39 jaar van buitemuurse aktiwiteite.


’n Onderwyser van Pionierskool tree af, nie net uit 39 jaar diens nie, maar ook 39 jaar van buitemuurse aktiwiteite.

Dit is die langste tydperk wat ’n personeel­lid, in die 140 jaar van die skool se geskiedenis, hier gewerk het.

Die 64-jarige Ryk van Schoor het in 1983 by die skool aangesluit en sê hy gaan die skool en personeel baie mis.

“Dit raak deel van jou as jy dit vir so lank doen,” sê Van Schoor.

Van Schoor sê hy wil graag meer tyd op die gholfbaan deurbring en met sy kleinkinders speel.

Hoogtepunte

Van Schoor vertel een van die hoogtepunte van sy loopbaan was toe die skool se rugbyspan in 1990 in Brittanje gaan toer het.

“Dit was die tyd toe ons nog ons eie rugbyspan gehad het en in die Noord-Bolandse B-liga gespeel het,” verduidelik Van Schoor.

Hy voeg by dat die doel van die rugbyspan destyds was om te wys dat ’n mens beperkings kan oorwin.

Van Schoor is ook ’n gekwalifiseerde tennisafrigter en sê hy het nog altyd ’n liefde vir sport en kinders gehad. Hy was in 2012 die bestuurder van die SA Paralimpiese span wat aan die streek se vyf Jeugspele in Zambië deelgeneem het.

Hy is van kindsbeen af baie lief vir sport omdat sy pa ’n Springbokrugbyspeler was.

“Ek glo dat ek na die skool gestuur is,” verduidelik Van Schoor.

Lesse en motivering vir ander

Volgens Van Schoor moet jy ’n liefde vir skoolhou en kinders hê as jy in die onderwys is. Een van die grootste lesse wat hy geleer het, is om nie ’n kind te onderskat nie. “Wanneer jy ’n kind die geleentheid gee, sal jy hom sien presteer.” Van Schoor sê hy is dankbaar vir sy gesondheid en sy familie.

You need to be Logged In to leave a comment.