Leerder presteer ten spyte van moeilike uitdagings

As jy vyf jaar gelede vir Jamiel Visser sou sê dat hy sy skool se toppresteerder gaan wees en met verskeie onder­skei­dings sy matriekeindeksamen gaan voltooi, sou hy vir jou lag.


As jy vyf jaar gelede vir Jamiel Visser sou sê dat hy sy skool se toppresteerder gaan wees en met verskeie onder­skei­dings sy matriekeindeksamen gaan voltooi, sou hy vir jou lag.

Ten spyte van verskeie uitdagings en probleme in sy gemeenskap het hy daarin geslaag om sy drome te verwesenlik.

Dié 18-jarige Jamiel het einde verlede jaar sy skoolloopbaan aan Hoërskool Tulbagh voltooi, twee onderskeidings gekry en met ’n gemiddelde van 73,3% dié mylpaal bereik.

“Ek is baie trots op myself en was baie verbaas toe ek dit bereik. Ek het onderskeidings vir wiskundige geletterd­heid en geografie gekry. Geografie was ook my gunstelingvak, want dit het te doen met die buitelewe en die natuur. Ek is absoluut gek oor enige nuwe avontuur,” vertel die jongman aan Standard.

Jamiel, wat vanjaar ’n oorbruggings­jaar gaan neem, wil verskeie dinge aanpak en daaruit leer voordat hy volgende jaar heel moontlik landbou, wat sy passie is, gaan studeer. Hy moes egter baie uitdagings oorkom om dié prestasies te bereik. “Ek en baie ander leerders in die land se grootste uitda­ging is sekerlik die misdaad wat oral seëvier. In die gebied waar ek woon, is dit baie gevaarlik en ’n mens hoor en aanskou grusame stories. Alles wat ek doen, moes ek ekstra versigtig doen, maar ek het dit met oorgawe gedoen,” sê hy. Jamiel was ook ’n uitblinker op die sportterrein en het uitsonderlike pres­tasies in krieket, rugby en atletiek bereik.

“My inspirasie is my toekoms – dit wat ek wil word en wil doen in die lewe. Dis my inspirasie,” sê Jamiel.

Sy skool is ook trots op sy prestasies en sien saam met Jamiel uit na sy rooskleurige toekoms.

You need to be Logged In to leave a comment.