Die Rachel’s Angels Vennootskap is gegrond op die konsep dat senior studente van die Universiteit van Stellenbosch (US) optree as leermeesters vir gr. 11- en 12-leerders van verskeie skole.
Twee van die skole in Worcester wat voordeel trek uit die vennootskap is Esselenpark Sekondêr en Worcester Sekondêr.
Volgens Alwin Fortuin van Esselenpark Sekondêr is die program gestig om die jongmense van vandag die leiers van die toekoms te maak.
“As die leerders in gr. 11 is, kies ’n paneel die topleerders om deel te neem aan die program vir ’n tydperk van twee jaar. Die projek sluit gereelde besoeke aan die US in; dit dryf leerders om beter te presteer en harder te werk om sodoende vrystelling te kry om te gaan studeer by ’n universiteit,” sê Fortuin.
Een van die leerders wat baat gevind het by die program is Luciano Manisi wat in 2015 matriek behaal het aan Esselenpark Sekondêr en van 2014 deel was van die program.
“Die program is baie suksesvol en ek het dit vreeslik baie geniet om deel te wees daarvan. Tans vat ek ’n Gap-jaar om my finansies uit te sorteer en volgende jaar wil ek begin swot aan my LLB-graad by US. Ek beveel die program aan vir jongmense wat iets wil maak van hul lewe. Dit maak letterlik ’n mens se oë oop vir die moontlikhede,” verduidelik Manisi.
Die vennootskap se stigter, prof. Rachel Jafta, noem dat die program in 2007 begin is en elke jaar groei getoon het.
“Daar is ’n verbetering in selfvertroue. ’n Mens sien hoe die leerders als wat hulle geleer het net so deel met die res van die leerders by hul skole. In sekere gevalle gaan hulle terug na hul laerskole waar hulle hul kundigheid soos nuwe studiemetodes met jonger leerders deel,” sê Jafta.
Volgens Fortuin is die senior studente baie betrokke by die leerders en help hulle om goeie besluite te neem ten opsigte van hul toekoms.
“Die studente help ook die leerders om aansoek te doen by universiteite, want soms weet van die leerders nie wat om te doen en hoe om aansoek te doen nie. Die betrokkenheidsaspek is wat die projek so hoogs suksesvol maak.”