Leerders gemotiveer om volle potensiaal te bereik

“In die vyf dekades van die skool se bestaan het Roodewal Primêr al vele suksesvolle landsburgers en loopbaangedrewe individue opgelewer.” Só sê Shirley le Roux wat al bykans 30 jaar ’n onderwyser by die skool is.


“In die vyf dekades van die skool se bestaan het Roodewal Primêr al vele suksesvolle landsburgers en loopbaangedrewe individue opgelewer.” Só sê Shirley le Roux wat al bykans 30 jaar ’n onderwyser by die skool is.

Roodewal Primêre Skool is 8 Oktober 1968, ná die samesmelting van die destydse twee kerkskole Daniel Gordon AME en die Congregational Kerk, gestig.

Met die ontstaan van die skool was daar 600 leerders. Vandag spog die skool met 900 leerders van graad 1 tot 7.

Le Roux, wat ook die departements­hoof van die grondslagfase is, sê wat die skool uniek maak, is dat oudleerders as onderwysers terugkom.

“Oudleerders kom, nadat hulle graad gevang het, en ploeg terug as onderwysers by die skool. Op die oomblik is hier sowat 17 onderwysers wat leerders by die skool was. Ek en die skoolhoof, Andre van der Merwe, ingesluit.”

Van der Merwe is die skoolhoof sedert 2007.

Hy sê hy onthou sy skooldae soos gister. “Toe ek hier as ’n kind was, was mnr. Haan die skoolhoof. Toe die onderwysers van daardie tyd my ’n paar rapse gegee het, het hulle min geweet ek is ’n toekomstige skoolhoof.

“Ek wou nog altyd ’n skoolhoof geword het. Die krag van die tong is fenomenaal. Wat jy verklaar, sal gebeur. Vandag is ek die skoolhoof,” sê Van der Merwe.

Le Roux sê die skool was ook destyds bekend vir sy operettes, wat gewoonlik by Oefenskool gehou is, en die onderwysers het gereeld die leerders op prettoere vergesel. Haar visie is dat Roodewal Primêr altyd hoër hoogtes sal bereik.

“Roodewal Primêr het baie leerders wat vandag suksesvol is. Daar is ’n lewe buite Roodewal, buite primitiewe omstandighede. Daar is ’n lewe beter as maatskaplike toelaes. Soos ons leuse, ‘Kennis ons strewe’, sal ons skool vir nog vele dekades leerders motiveer om hul volle potensiaal te bereik,” sluit Le Roux af.

You need to be Logged In to leave a comment.