Die leerders van Langerugskool was in hul noppies met die boek. Voor is Naldo Hayes, Wihan Minnie en Frank Noble. In die middel staan Marius van Rhys en Lincoln Human met hul boeke. Agter staan Dr. Niel le Roux (SBA-uitvoerende hoof), Bea-Mari Brand (Langerug onderwyser), Ivan Ndevu (SBA- projekleier), prof. Michael le Cordeur (SBA-direksieleier en verbonde aan die Universiteit Stellenbosch), Klavs Skovsholm (skrywer), Isabelle Grobler (illustreerder) en Sjaka September (teks verwerker).Foto: Brümilda Swartbooi


Wêreldboekedag word jaarliks op 23 April in Suid-Afrika gevier ter uitbouing van die waardetoevoeging wat lees en stories vir die samelewing bring.

In die gees van hierdie gebeurtenis, het ’n organisasie sonder winsbejag, die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), die afgelope Dinsdag en Woensdag (23 en 24 April) skole in die Breederiviervallei, Langerugskool in Worcester, Laerskool Ashton, Ashton Public Combined School en H. Venter Primêr in Ashton besoek.

Die doel van die besoek aan die skole was om ’n liefde vir lees te kweek. “Ons wil ’n bydrae maak tot funksionele geletterdheidsontwikkeling deur die oordrag van kennis, waardes en vaardighede met die doel om ’n multitalige samelewing te verenig,” sê die uitvoerende hoof van SBA, dr. Niel le Roux.

Bykans 900 gr. 6- en gr. 7-leerders het elk ’n Robbie die Rowwe Rot-boek by die SBA se besoek ontvang. “Die SBA se nuutste publikasie, Robbie die Rowwe Rot/Umabuzi Ogadalala, is ’n gekombineerde Afrikaans- en Xhosa-weergawe wat die vorm aanneem van ’n byderwetse strokiesprentavontuur. Dié strokiesprentboek handel oor die unieke avonture van ’n rot van Mitchells Plain. Die volkleurblaaie gevul met egte strokiesprentstyl illustrasies deur Isabelle Grobler poog om leerders aan verskillende genres van storievertelling en lees vir genot bloot te stel en sodoende ook ’n bydrae tot geletterdheidsontwikkeling onder die jeug te lewer,” sê Le Roux.

“Die oorspronklike verhaal kom uit die pen van die Deense skrywer Klavs Skovsholm, wat die hele projek ook borg, en is vir die Suid-Afrikaanse konteks aangepas deur Sjaka September en Sivuyile Mazantsi,” sê Le Roux.

You need to be Logged In to leave a comment.