Leerders van vyf laerskole buite Worcester wat aan die Stellenbosch Universiteit Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP) se skoolvakansieprogram deelneem, is opgewonde om deel te wees van ’n week van leer en onderrig.
Só sê Nicholas Pedro, skoolhoof by Botha’s Halte Primêr, ’n plaasskool buite Worcester waar die program aangebied word.
Die vakansieprogram het Maandag begin en duur tot môre.
“Die kinders is baie opgewonde om hier te wees en kan nie wag om die week nuwe goed te leer nie. Ons het Maandag ’n 100%-bywoningsyfer gehad en ek hoop dit hou so aan,” het Pedro opgewonde gesê.
Gedurende die Julie-skoolvakansie bied SUNSEP ’n aanvullende onderrigprogram, ook bekend as ’n ingrypingsprogram, vir graad 5- tot 7-leerders aan.
Die fokus van dié program is om leerders die geleentheid te gee om hulle wiskunde- en Afrikaanspunte gedurende die derde kwartaal te verbeter.
Altesaam 75 leerders is deel van die program wat deur Bosjes Trust geborg word.
Die vyf ander laerskole wat deelneem is Bet-El Primêr, Slanghoek Primêr, Wysersdrift Primêr, Petra Gedenk Primêr en La Plaisante Primêr.
Volgens Andrew Fick, programbestuurder, identifiseer die skole hulle beste leerders vooraf en dan word hulle genader om te hoor of hulle deel van die program wil wees.
“Aan die begin van die program skryf die leerders eers ’n intreetoets sodat die onderwyser die probleme wat die leerders met die vakke ervaar, kan identifiseer en daarop kan fokus. Dit word ook gebruik om die res van die week te beplan.
“Die onderwyser hersien die tweede kwartaal se werk in een week. Die leerders het dan ’n beter begrip van die skoolwerk en hoe hulle vorder.
“Die klasse is baie kleiner en dit gee die leerders die vrymoedigheid om meer vrae te vra. Soms gebeur dit dat kinders in die klas sit en dan wil hulle ’n vraag vra, maar dit word nie beantwoord nie. Soms is die klasse ook te groot en word hulle vraag oorgeslaan. Met die program kry die leerder ekstra en persoonlike aandag,” het Fick verduidelik.
Volgens Fick is die studieleier wat die klasse aanbied, onderwysers of kurrikulum-adviseurs van die Wes-Kaapse onderwysdepartement.
Pedro sê ook twee van die graad 7-leerders, wat aan die program deelneem, se uitslae het verbeter nadat hulle by die program aangesluit het.
“Dit is baie verbasend wat die program kan doen. Hulle is ook meer gefokus op hulle skoolwerk en hulle benadering tot hulle skoolwerk het ook verander. Hopelik kan hulle hul medeleerders ook aanmoedig om dieselfde te doen.”
Die leerders het Maandag ook ’n mussie, ’n serp, ’n warm baadjie en ’n paar handskoene ontvang wat deur SUNSEP aan die kinders oorhandig is.
Daar sal ook in die nuwe kwartaal virtuele klasse aan die hele skool gebied word.