Leerders sit beste stuk voor op die skaakbord

Leerders sit reg, oorgehaal voor hulle opponente en dink hard aan die volgende beste skuif – alles om koning te kraai aan die einde van die ronde.


Leerders sit reg, oorgehaal voor hulle opponente en dink hard aan die volgende beste skuif – alles om koning te kraai aan die einde van die ronde.

Dié atmosfeer het geheers by Chess for Change se onlang­se skaaktoernooi waar altesaam 58 leerders deelgeneem het.

Die toernooi het Donderdag 22 Novem­ber by Victoriapark Primêre Skool plaasgevind. Leerders van Roodewal Primêr, Avianpark Primêr en Victoriapark Primêr het aan die toernooi deelgeneem.

Heloise Beukes, koördineerder, sê Chess for Change het die toernooi aangebied om leerders met brein­ontwikkeling en konsentrasie te help. “Kinders sukkel soms met wiskunde. Chess for Change se doelwit is om daarmee te help.”

Beukes sê dis belangrik om leerders se breinontwikkeling in die grondslag- en intermediêre fase te prikkel.

“Chess for Change het by David Berman begin. David het die organi­sasie bykans 16 jaar gelede gestig. Hy woon tans in Amerika, maar hy is oorspronklik van Suid-Afrika,” sê Beukes.

“Chess for Change is Berman se nalatenskap. Skaak het hom gehelp en vandag is hy ’n multimiljoenêr. Met sy organisasie wil hy ander leerders ook help.

“Berman was geboelie op laerskool en hy het altyd na die skool se biblioteek ontsnap en dáár skaak gespeel,” vertel sy.

Beukes sê skaak leer die spelers ook dissipline. “Almal is stil in ’n wedstryd en konsentreer net op die spel. Skaak dra ook by tot goeie analitiese denke, verbetering van geheue en die vermoë om goed te beplan.”

“Met die projek leer ons die leerders ook lewenslesse,” sê Beukes. “Ons beklemtoon die belangrikheid om ’n droom en visie vir die toekoms te hê. Hulle kan uitstyg bo hul omstandighede en iets bereik.”

“Ons skep ’n geleentheid vir die leer­ders om goeie rolmodelle te identifi­seer,” voeg sy by.

Chess for Change doen uitreikings na skole hoofsaaklik in die Wes- en Oos-Kaap.

Aan die einde van die toernooi het elke leerder ’n sertifikaat vir deelname ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.