‘n Bekende inwoner van Avianpark, Lena Johnson, is Woensdagaand geskiet. Die rede is nog onbekend, sê ‘n vriendin.
Sy sterk tans in die Tygerberg-hospitaal aan, waar ‘n koeël uit haar hand verwyder gaan word. Volgens, Claire Slingers, voorsitter van die Avianparkse organisasie sonder winsbejag, Umbrella, het Johnson buite haar huis in Kolgansstraat met iemand gepraat toe sy geskiet is.
“Sy sê toe sy omdraai, het sy ‘n groot skootslag gevoel, soveel sò dat haar tande uit haar mond uit geval het. Die koeël het deur haar wangbeen en tandvleis gegaan en is die ander kant uit,” het Slingers aan Standard gesê.
Slingers sê Johnson is in haar regterhand geskiet. Die koeël is steeds in haar hand.
“Volgens Lena is haar duim en wysvinger flenters. Ek praat gereeld met haar. Sy het vir my gesê alles speel voor haar af. Sy kan nie die gebeurtenis beskryf nie,” vertel Slingers.
Die rede vir die skietvoorval is nog nie bevestig nie. “Sommige inwoners sê dit was dwaalkoeël, maar Lena het self vir my gesê sy dink die skoot was op haar gemik,” sê Slingers verder.
Lena is bekend vir haar gemeenskapswerk. “Dit is aaklig dat so iets met haar gebeur het, maar ek is net dankbaar dat sy op die herstelpad is,” sê Slingers.
Volgens Slingers is sy kwaad oor wat gebeur het. “Ons weet net nie hoekom dit gebeur het nie. Ek is kwaad, omdat ons vir Breedevallei-munisipaliteit gevra het om ‘n container in Avianpark op te sit waar ons buurtwag kan opereer. Ons het in 2018 ‘n voorstel aan hulle ingedien en hulle het bevestig dat hulle dit gekry het, maar daar het nog niks van gekom nie. Ek is ook kwaad omdat die polisie meer sigbaar moet wees,” sê Slingers.
Standard het ‘n navraag aan die Worcester-polisie gestuur, en sal die berig opdateer sodra dit ontvang word.