Dit is elkeen se reg om geletterd te wees.
Dít is die doelwit van die Wêreld Hardopleesdag wat op 16 Februarie gevier is en Worcester-skole het ook hieraan deelgeneem.
Dié dag motiveer kinders, tieners en volwassenes wêreldwyd om die krag van woorde te vier en te skep. Dit motiveer ’n gemeenskap van lesers om aksie te neem om die wêreld te wys die reg om geletterd-heid behoort aan alle mense.
Uit plaaslike oord het ’n graad twee onderwyser en die biblioteek-koördineerder van Worcester Voorbereidingskool, Sonja Bekker, haar deel vir dié dag gedoen.
Voorbereidingskool was een van die skole wat deelgeneem het. Bekker sê dit is belangrik om leerders bloot te stel aan lees, nie net om dit te geniet nie, maar ook om hul geletterdheidsvlakke te verbeter.
’n Groep radio- en TV-persoonlikhede het kragte saamgesnoer met OnsKan24, die toonaangewende opvoedkundige inisiatief van Media24, en met Nal’ibali, ’n leesinisiatief.
Die Pionierskool vir siggestremdes het ook deelgeneem aan die nasionale inisiatief om vroeë geletterdheidsvlakke van Suid-Afrikaanse leerders te bevorder en mense bewus te maak van die belangrikheid van lees.
Liezel van der Westhuizen, ’n gereelde voorbladgesig op modetydskrifte en die TV- en radioaanbieder, Sechaba G, was deel van die verrigtinge.
Sechaba G het ’n program daaraan gewy om leerders aan te moedig om hardop te lees, en Precious Cekala, ’n leerder van die Pionierskool op Worcester, het ’n storie in braille gelees.
Adrie Jurgensen, groepbestuurder van Media24 se gemeenskapsprojekte, het gesê die deelname van meer as 100 leerders op Nasdak was ’n groot sukses.
“Dit het ook ons verbintenis tot inklusiwiteit onderstreep. Leerders van Pionierskool wat visueel gestremd of blind is, het onderhoude gevoer met glanspersoonlikhede en sal nuusartikels digitaal op OnsKan24 se aanlynplatform publiseer.
“Ons het 250 skole reeds betrek sedert ons ontstaan in 2015 om hulle toe te rus met joernalistieke vaardighede en om aan hulle sosiale media en digitale vaardighede te leer. Die lys van skole sal gou groter raak en 700 bereik. Maar deel van ons oogmerk is om ’n geslag van burgerjoernalistiek te vestig en om ons kultuur van lees deur Suid-Afrika te verbreed,” het sy bygevoeg.
’n Verteenwoordiger van die departement van basiese onderwys, Troy Martens, het gesê luidens statistieke wat beskikbaar is, het Suid-Afrika nie ’n kultuur van lees nie. Net 14% van Suid-Afrikaners lees boek en net 5% van ouers lees vir hul kinders.
“Meer as 80% van Suid-Afrikaners word geklassifiseer as nie-lesers en meer as 10% van Suid-Afrikaners word geklassifiseer as basiese lesers.”
Net meer as 5% van alle Suid-Afrikaners is gevorderde lesers.
Dr. Suna Verhoef, Afrikaans-onderwyser by Pionierskool, het gesê die koste verbonde daaraan om boeke in materiaal te omskep wat braille-inklusief is, is een van die grootste uitdagings wat siggestremde kinders in die land in die gesig staar.
“Die boeke wat vertaal word in braille, is ook nie geredelik beskikbaar aan visueel gestremde kinders nie, en is normaalweg baie duur.”