Lise-Mari van Wyk, ’n gr. 9-leerder by Pionierskool, het op 17 November by die RSG-kunstefees haar debuut as stemkunstenaar gemaak.
“Kobus Burger, RSG se uitvoerende regisseur vir drama, het tydens die finale rondes van die kykNET-toneelspelkompetisie by die Kunstekaap in Mei vanjaar haar verhoogtalent raakgesien. Hy het haar genooi vir ’n oudisie saam met die groep finaliste by die Seepunt-ateljee van RSG,” vertel Derek Daly, Van Wyk se drama-onderwyser.
Die tienerdrama, Ons het gees, is spesiaal geskryf deur Anton Treurnich, skrywer van die middagvervolgverhaal, Vloek van die rooigety, en hierin het sy die rol van Ria gespeel.
Haar optrede het groot lof ontvang van die bekende regisseur, Eben Cruywagen. “Ek maak nie dikwels voorspellings nie, maar nou maak ek wél een: Lise-Mari van Wyk sal nog as een van die grootstes onder die grotes gereken word,” het hy gesê. “Haar werksetiek is prysenswaardig. Sy is gefokus, toegewyd en verstommend professioneel.”
“Take a bow, Lise-Mari. Jy het jou stempel afgedruk. As regisseur respekteer ek jou dissipline en jou professionaliteit. As mens bewonder ek jou waagmoed, jou durf en jou stil, innerlike krag,” het Cruywagen bygevoeg.
Sy het daarna ook ’n rol losgeslaan in ’n volwaardige radiodrama met 26 episodes, Operasie Renoster. Die opnames sal in Desember plaasvind.
Daly sê hy is baie trots op Van Wyk. “Sy is baie talentvol en hardwerkend, sy gaan dit nog baie ver bring.”
Van Wyk het aan die Standard gesê: “Dit voel nog so onwaar, eintlik te goed om waar te wees. Ek het nooit gedink ek sal so goed vaar in drama nie. Ek is dankbaar dat meneer Daly my aangemoedig het om deel te neem en vir Andrea Streso wat my afgerig het.”
Van Wyk se ouers en familie is baie trots op haar. “Ons is oorweldigend bly en baie trots op Lise-Mari. Sy is ’n bewys dat blinde persone enige iets kan vermag en enige iets oorkom kan word,” het haar pa, Johan, gesê.