Die loting vir vanjaar se eerste ronde van die Gold Cup is vandeesweek aangekondig.

Die 32 beste amateurspanne in die land is in twee afdelings ingedeel. Boland se twee topspanne, die Robertson- en Worcester Villagers-rugbyklubs, is in die Suidelike afdeling ingedeel. Die twee spanne het in verlede seisoen se eindstryd van die Grootuitdaagkompetisie slaags geraak en Robertson het naelskraaps met Villagers afgereken.

Safcol, uit die Overbergstreek, is as buiteperd in die Noordelike afdeling ingedeel en sal sommer met die intrapslag teen die eerste gekeurde en verdedigende kampioen, Naka Bulls, te staan kom.

Die Gold Cup word vanjaar deur Pick n Pay geborg en wedstryde begin op 27 September met Worcester Villagers (Villa) wat ook in sy eerste wedstryd ‘n hoë hekkie moet oorsteek wanneer hy die Griekwas se kampioenspan, Sishen, op laasgenoemde se tuisveld die stryd sal aansê.

Robertson Town, Boland se kampioenspan van verlede seisoen, speel sy eerste wedstryd tuis op die Van Zylstraatstadion in Robertson teen die ander Griekwaspan, Kimberley.

Villa se Gold Cup-groep is:

Voorspelers: A. Zingitwa, F. Smith, L. Johnson, W. Ryneveldt, A. Adams, L. Biehl,

K. Tarentaal, K. Jacobs,

L. Louw, C. Abrahams,

M. Marinus, B. Grove, J. Titus en E. Haas;

Agterspelers: G. Africa, G. Joubert, E. Mfundisi,

H. Jacobs, P. Basson,

W. Plaatjies, D. Atkins,

F. May, J. Williams, J. Melouw en S. Afrika. – Alver Uys

You need to be Logged In to leave a comment.