Hoërskool Montana het op 21 Oktober vir Alistair Januarie (18) aangewys as hul hoofseun vir 2016.
Januarie, ’n graad 11-leerder en die seun van ’n dowe persoon, Aliseen Isidore, sê die prestasie het hom heel onverwags toegekom.
Volgens Gerhard Biesenbach, skoolhoof van Montana, is Januarie ’n baie hardwerkende leerder en die skool is baie trots op hom. “Hy handhaaf goeie dissipline.
Hy het goeie maniere en is altyd netjies. En hy is baie gewild onder die leerders,” voeg Biesenbach by.
Januarie is ’n veelsydige leerder en speel ook in die skool se eerste krieket- en hokkiespanne.
Isidore, wat ’n tee-dame by die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit is, sê sy is baie trots op haar seun.
“As ouer is ek baie trots op hom. Hy bereik dinge wat ek nie kon bereik het toe ek sy ouderdom was nie.
“Dit voel soms onwerklik, so asof ek droom, maar hy verdien dit. Hy is altyd besig met skoolaktiwiteite soos sport of landsdiens, en is baie betrokke by die skool se funksies en goed,” vertel Isidore, wat lip- lees.
Sy sê sy het dit nie verwag dat haar seun hoofseun sou word nie.
“Ek het so groot geskrik toe dit aangekondig word, dat die ander ouers vir my gewys het ek moet vorentoe gaan.
Dit was ’n baie emosionele oomblik. Van die ander ouers en leerders het selfs begin huil,” voeg sy by.
Isidore vertel dit is nie altyd maklik vir haar as enkelouer nie. “Somtyds gaan dit maar broekskeur en kopskuur en ander tye is alles weer goed op dreef.
“Daar’s nie ’n dag wat ek kla oor hom nie, hy is ’n goeie voorbeeld vir sy sustertjie. Hy is my steunpilaar,” sê sy.
Januarie moet dikwels sy ma na die ouervergaderings vergesel om as tolk vir sy ma op te tree.
Januarie het aan die Standard gesê: “Ek probeer elke dag ’n voorbeeld wees vir ander leerders en help waar ek kan.
“Ek probeer ook net toepas dít wat my ma vir ons geleer het om te doen, wat basies is om respek te hê vir ander en om jou beste te doen.”