Lise Beyers

Dis Paasfees en daarmee hand-aan-hand, veral hier in die Kaap, beteken dit kerrie- of pekelvistyd.

Hierdie heerlikhid geniet sy ontstaan te danke aan slawe wat na die Kaap gebring is. Hierdie geregte het met ’n kombinasie van Oosterse speserye ’n absolute lekkerny geword.

Dis vir my ’n baie mooi en spesiale tradisie wat ons hier in die Kaap het om kerrievis in die Paastyd te eet.

Die vissermanne roep jou langs die pad met hul vrag snoek en vertel dis net die regte ding om mee kerrievis te maak.

Die storie loop so dat die vis simbolies is van hierdie godsdienstige tydperk omdat dit verbind word met Jesus as die “Visser van mense”. Talle gelowiges glo ook dat dit onheilig is om Vrydae vleis te eet. Sekere tradisies glo weer dat niemand op Goeie Vrydag mag werk nie – ook nie mag kos maak nie.

Daarom moes Paasgeregte voor die tyd berei word.

Vir heerlike ingelegde vis benodig ’n mens vis met ’n stewige tekstuur, soos geelstert of snoek. Maar Stokvis is ook nommerpas.

Vinnige, maklike kerrievis (vir ongeveer 2 kg visfilette):

Sny die vis in mote. Besprinkel die visporsies met sout en witpeper en laat staan totdat die pekelsous reg is.

Vir die pekelsous kook jy eenvoudig ’n halfuur lank die volgende saam:

- 3 groot uie wat in ringe gesny is

- ½ koppie suiker

- ½ koppie appelkooskonfyt

- 2 eetlepels kerriepoeier (matig)

– 1 eetlepel borrie

- 3 koppies wit asyn

- 1 koppie water

- 4 suurlemoenblare

- 3 eetlepels geskroeide koljander

- 3 heel naeltjies

- 3 heel peperkorrels

- Sout na smaak

- Vir nog ’n bietjie brand kan twee brandrissies bykom.

Só maak jy:

Braai die uieringe in ’n bietjie olie vir drie minute, maar keer dat dit nie bruin brand nie.

Voeg die kerriepoeier by en braai vir ’n minuut. Dan kom die res van die bestanddele by. Laat saggies prut vir 20 minute. Proe vir die regte soet-suur-balans waarvan jy hou – dus, voeg óf nog suiker óf nog asyn by na jou smaak.

Plaas dan die helfte van die vis-mote in die pruttende sous, en prut vir 5 minute (10 as dit dik mote is). Haal uit en pak netjies in ’n skottel (vlekvrye staal of plastiek).

Prut nou die res van die vis in die pekelsous. Haal uit en plaas in jou skottel en giet nou al die pekelsous daaroor.

Die vis behoort bykans in die sous te verdrink.

Sit ’n deksel op die skottel en bewaar in jou yskas.

Probeer dit weerstaan vir so twee dae, en dan is hy reg om saam met Paasbolletjies wat met ’n dik lag botter gesmeer is, bedien te word.

Geniet dit!

You need to be Logged In to leave a comment.