Met die Desember-vakansie wat landwyd momentum kry, waarsku Badisa dat kinders hierdie tyd van die jaar aan verhoogde veiligheidsrisiko’s blootgestel kan word.
Karoline September, ‘n maatskaplike werker by Badisa, verduidelik: “Die kombinasie van langer dae sonder toesig, veranderde roetines, verhoogde alkohol-gebruik en die algemene druk van die feestyd, lei jaarliks tot ‘n styging in voorvalle waarin kinders se veiligheid in die gedrang kom.”
Sy sê die belangrikste beginsel is eenvoudig: “Ouers moet te alle tye weet waar hul kinders is. Wanneer kinders sonder toesig rondbeweeg – veral in die vakansie – word hulle aan gevaar blootgestel.
“Probeer sover moontlik om kinders by die huis besig te hou sodat hulle nie in die strate hoef rond te dwaal nie.
“As jy ‘n werkende ouer is, moet jy jou kinders in betroubare sorg plaas.”
September sê gedurende die feestyd verander baie gesinne se roetines.
Volgens haar is ouers meer sosiaal as gevolg van verskeie saamtrekke wat bygewoon word, wat ook soms met meer drankgebruik gepaardgaan.
Sy sê hierdie faktore kan kinders se veiligheid direk beïnvloed.
“Ons sien elke jaar dat kinders makliker verwaarloos of mishandel word wanneer volwassenes hul aandag na sosiale aktiwiteite verskuif. Ouers moet verantwoordelik omgaan met alkoholgebruik en te alle tye in die beste belang van hul kinders optree.”
Volgens September is daar ‘n paar herhalende risko’s wat elke vakansieseisoen die kop uitsteek.
Sy sê kinders word soms alleen by die huis gelaat of selfs uitgesluit, veral wanneer ouers by ander geleenthede is.
Volgens haar vererger alkoholmisbruik hierdie situasies en verhoog dit die kans op verwaarlosing, mishandeling en molestering.
Met betrekking tot waterveiligheid, sê September: “Talle kinders swem in damme en talle ander waterplekke sonder toesig. Dit is ‘n ernstige risiko.
“Ouers moet seker maak kinders ontvang toesig sodat hulle nie alleen rondloop of alleen gaan swem nie.”
Sy moedig ouers aan om openlik met kinders te praat oor die gevare in die gemeenskap en om duidelike reëls en perke vir die vakansie te stel.
September sê wanneer gesinne na bedrywige plekke soos strande, winkelsentrums of feeste gaan, is voorbereiding noodsaaklik.
Sy beveel aan dat ouers vooraf met kinders praat en verduidelik dat hulle naby hulle (ouers) of familie moet bly.
Volgens September moet kinders hul volle name ken, asook dié van hul ouers, omdat dit baie help wanneer ‘n kind verdwaal.
“Ouers kan ook ‘n eenvoudige armband maak met kontakbesonderhede daarop wat die kind kan dra.
“Kinders moet ook die noodnommer 10111 ken.
“Ouers moet vir hul kinders wys waarheen om te gaan wanneer hulle verdwaal, soos menseredders op strande, mobiele polisie-eenhede, of die inligtingstoonbank in ‘n winkelsentrum.”
Onthou om hierdie nuttige noodnommers altyd byderhand te hou:
• Polisie-noodgeval – 10111
• Childline Suid-Afrika (gratis hulplyn vir berading en mishandeling – 116
• Algemene selfoon-noodnommer – 112
• Geslagsgeweld-inbelsentrum (meld mishandeling aan): 0800 428 428.
• Hulplyn vir mensehandel: 0800 222 777.
• Ambulans / mediese noodgeval: Skakel 10177. – Enrico Claassen





